Bible Society of South Africa

Haggai

Haggai is ʼn profeet wat sy optrede omstreeks 520 v.C. in die Persiese provinsie Juda begin. Hy roep die volk op om die tempel van God te herbou.


Die boek Haggai is na hom vernoem.

Die naam Haggai

Die naam Haggai beteken “feeskind”.


Haggai is ʼn tydgenoot van die profeet Sagaria (Esra 5:1; Esra 6:14).

Herbou van die tempel

Die tempel in Jerusalem is in 586 v.C. deur die Babiloniërs verwoes. Toe Kores, die koning van Persië, die ballinge uit Juda toelaat om na hulle land toe terug te keer, gee hy aan hulle opdrag om die tempel in Jerusalem te herbou.


Maar die mense in Juda stel uit om die tempel te herbou, en verkies om eers hulle eie huise te bou (Haggai 1:4). Saam met die profeet Sagaria, spoor Haggai die terugkerende ballinge aan om met die herbou van die tempel van God te begin. Hy spreek veral die goewerneur van Juda, Serubbabel, en die hoëpriester Jesua aan (Haggai 1:1).

Slegte oes

Haggai verduidelik dat die droogte en die slegte oes in Juda die gevolg is van hulle uitstel om die tempel te bou. As hulle wel met die herbou van die tempel begin, sal seëninge weer op die land neerdaal. Dinge sal ook beter gaan met die goewerneur, Serubbabel.


In sy laaste toespraak spreek Haggai vir Serubbabel aan. Hy sê dat God die mag van al die volke sal verbreek, en dat Hy Serubbabel uitgekies het om sy dienaar te wees (Haggai 2:20-23).

Verwante Bybelgedeeltes

ESRA 5.1 ESRA 6.14 HAGGAI 1

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS