Bible Society of South Africa

Gideon

Gideon word deur God geroep om Israel van die Midianiete te bevry. Met ʼn groep van 300 soldate val hy die Midianiete aan en verdryf hulle. Die Israeliete vra hom dan om oor hulle te regeer, maar hy wys dit van die hand. Maar hoewel Gideon nie amptelik ʼn koning van Israel is nie, tree hy in werklikheid soos een op.

Die naam Gideon

Die naam Gideon beteken “die een wat afkap”. Een nag terwyl Gideon besig is om die altaar van die afgod Baäl af te breek en die gewyde paal af te kap, noem sy vader hom Jerubbaäl (Rigters 6:32). Dit beteken “Baäl sal veg” of “hy veg teen Baäl”.


Die profeet Samuel verwys na hom as een van die belangrikste rigters van Israel (1 Samuel 12:11), en Hebreërs 11:32 noem hom een van die geloofshelde, saam met Barak, Jefta en Simson.


Gideon is ook die naam van een van die voorvaders van Judit (Judit 8:1).

Bevryder van Israel

Gideon is die jongste seun van Joas en woon in Ofra. Hy behoort tot die familiegroep van Abiëser (hy was ʼn Abiësriet) uit die stam van Manasse.


Alhoewel Gideon baie beskeie is oor sy herkoms, beveel ʼn engel van God hom om die Israeliete van die Midianiete, wat hulle al sewe jaar lank onderdruk het, te bevry. 

Leier van sy eie leër

Gideon versamel soldate uit die stamme van Israel vir die stryd. Maar God dink dat hulle te veel is. Hy wil nie hê Gideon moet op sy eie krag staatmaak nie, en beveel hom om die grootste deel van die leër huis toe te stuur.


Die gevolg is dat Gideon slegs ʼn groep van 300 man oorhou. Met hierdie leër omsingel hy die kamp van die Midianiete in die nag. Hulle blaas op hulle ramshorings en swaai fakkels, wat groot paniek saai en die Midianiete op die vlug laat slaan.

Heerser oor Israel

Ná sy oorwinning oor die Midianiete vra die Israeliete Gideon of hy en sy seuns oor Israel sal regeer. Maar Gideon dink dat God die Heerser oor die volk moet wees en nie ʼn mens nie (Rigters 8:23).


Alhoewel Gideon nie ʼn heerser oor Israel is nie, tree hy tog soos een op. Hy het baie vroue en verwek 70 seuns. Hierbenewens het hy nog een seun by ʼn byvrou, wat hy Abimelek (“my vader is koning”) noem.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS