Bible Society of South Africa

Ahasveros

Ahasveros is die koning van die Persiese Ryk. Hy verleen toestemming aan sy belangrikste minister, Haman, om al die Jode in sy koninkryk te vermoor. Maar toe ontdek Ahasveros dat sy gunstelingvrou, Ester, ook deel van die volk is.

Die naam Ahasveros

Ahasveros is die Hebreeuse vorm van die Persiese naam Ksjajarsja (“Sjah van die sjahs”). Die Griekse weergawe van hierdie naam is Xerxes. Hierdie name beteken “opperheerser”.

Ahasveros word dikwels geïdentifiseer as die Persiese koning Xerxes I, wat van 486 tot 465 v.C. regeer het. In die Griekse weergawe van die boek Ester word die koning Artasasta genoem. Dit is dus ook moontlik dat die verhaal na koning Artasasta I (464-424 v.C.) of Artasasta II (423-404 v.C.) verwys.

ʼn Nuwe koningin

Nadat Ahasveros van koningin Vasti ontslae geraak het, begin hy na ʼn nuwe koningin soek. Uit al die mooi vroue in sy harem kies hy die Joodse meisie Ester as die nuwe koningin.

Ester mag slegs op versoek van die koning in sy teenwoordigheid verskyn. Indien sy sonder toestemming na hom toe sou gaan, sal sy doodgemaak word, tensy die koning sy goue septer na haar toe uitsteek.

Haman se plan

Haman is Ahasveros se belangrikste minister. Die koning verleen toestemming aan Haman om ʼn spesifieke volk in sy koninkryk uit te wis, sonder om te besef dat die betrokke volk die Jode is. Op bevel van koning Ahasveros moet Haman ʼn bepaalde dag kies waarop alle Jode uitgewis gaan word. Hy verseël die bevel met die koning se seëlring.

Ester hoor by haar pleegvader Mordegai wat Haman beplan. Sy waag haar lewe deur na die koning toe te gaan om haar volk van uitwissing te red. Toe koning Ahasveros haar sien, steek hy sy goue septer na haar toe uit.

ʼn Nuwe wet

Ester nooi die koning en Haman om by haar te kom eet. Tydens ete vertel sy vir die koning dat sy aan die volk behoort wat Haman wil uitwis. Sy vra die koning om haar en haar volk se lewens te spaar.
Dit is eers toe dat Ahasveros besef waarvoor hy toestemming gegee het. Die koning kan die bevel nie herroep nie omdat dit ʼn wet van die Meders en die Perse is. Maar hy verleen toestemming aan Mordegai om ʼn nuwe wet uit te vaardig sodat die Jode hulself op daardie dag mag verdedig. As gevolg hiervan word die Joodse volk gered van uitwissing.

Verwante Bybelgedeeltes

ESTER 1 1

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS