Bible Society of South Africa

Hanna

Hanna is die vrou van Elkana en die moeder van Samuel. Sy was vir ʼn lang tyd kinderloos, maar smeek God vir ʼn seun. Sy belowe dat die kind God lewenslank sal dien.

Die naam Hanna

Die Hebreeuse naam

Hannah

beteken “begenadigde”. In die Evangelie volgens Lukas kom nog ʼn vrou voor met hierdie naam (Anna). Sy is die ou profetes wat God dank wanneer sy Jesus in die tempel sien (Lukas 2:36-38). 

Kinderloos

Hanna is die vrou van Elkana. Elkana het haar baie lief ten spyte daarvan dat sy kinderloos is (1 Samuel 1:5). Maar Elkana se ander vrou Peninna treiter Hanna omdat sy nie kinders het nie, en Peninna wel.

Gelofte aan God

Gedurende hulle jaarlikse besoek aan die heiligdom in Silo, verneder Peninna vir Hanna. Hanna gaan daarom na die heiligdom en bid tot God: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ʼn seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie” (1 Samuel 1:11).


Die priester Eli sien Hanna bid, maar dink dat sy dronk is. Wanneer hy haar wil wegjaag, vertel Hanna hom wat sy van God gevra het. Toe Eli dit hoor, sê hy dat God haar gebed sal verhoor. Wanneer Hanna weer tuis is, word sy inderdaad swanger en kry ʼn seun wat sy Samuel noem (1 Samuel 1:17-20).

Hanna se loflied

Toe Samuel gespeen is, bring Hanna hom na die heiligdom in Silo. Hy was waarskynlik op dié tydstip omtrent drie jaar oud (2 Makkabeërs 7:27).


Toe Hanna hom by die priester Eli agterlaat, sing sy ʼn loflied (1 Samuel 2:1-10). In hierdie lied dank sy God dat Hy na gewone mense omsien en dat magtige mense, daarteenoor, hulle mag verloor.


Hierdie lied toon ooreenkomste met die lied van Maria, die moeder van Jesus, in Lukas 1:46-55.

Nog kinders

Elke jaar besoek Hanna en Elkana vir Samuel by die heiligdom. Dan bring Hanna vir Samuel ʼn manteltjie wat sy self gemaak het. 


Die priester Eli seën hulle met die woorde: “Mag die Here jou uit hierdie vrou ʼn nageslag gee in die plek van die seun wat van die Here afgesmeek is” (1 Samuel 2:20). Naas Samuel het Hanna en Elkana wel nog kinders gehad: drie seuns en twee dogters (1 Samuel 2:21).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS