Bible Society of South Africa

Atalia

Atalia was koningin van die suidelike ryk van Juda van ongeveer 845 tot 840 v.C. Haar regering het gevolg op ʼn bloedige staatsgreep. Die bybelse skrywers skets ʼn negatiewe prentjie van Atalia; sy was gewelddadig en het die Baälaanbidding aangemoedig.

Die naam Atalia

Die naam Atalia beteken “die Here is verhewe” of “die Here het weggeneem”. Atalia is afkomstig uit die familie van Omri van die noordelike ryk van Israel. Dit is nie regtig duidelik of sy die kleindogter van Omri of van sy seun, Agab, was nie (2 Konings 8:26-27).


Atalia was getroud met koning Joram van Juda en was die moeder van koning Ahasia.

Atalia se staatsgreep

Toe Atalia hoor dat haar seun Ahasia tydens ʼn magsoorname in Israel deur Jehu doodgemaak is, het sy self die mag oorgeneem in Juda. Sy sien toe dat al die seuns van die koninklike familie vermoor word. Net Joas, ʼn seun van Ahasia, is gespaar. Sy tante steek hom ses jaar lank in die tempel weg, terwyl sy ouma die land regeer.


Na hierdie ses jaar word Atalia onttroon en vermoor tot die vreugde van die hele volk (2 Konings 11:20). Die hoëpriester Jojada kroon Atalia se kleinseun Joas as koning oor Juda. Hy is die enigste manlike afstammeling van die familie van Dawid wat oorleef het.

Die familie van Agab

Die Bybelskrywers vertel nie baie oor Atalia se regering nie. Maar uit dit wat ons in 2 Konings 11:18-19 en 2 Kronieke 24:7 lees, blyk dit dat daar tydens haar regering tempels en altare vir Baäl gebou is en dat haar ondersteuners heilige offers uit die tempel geneem het om Baäl mee te aanbid.


Atalia se voorkeur vir die aanbidding van Baäl het duidelik te make met haar herkoms. Soos koning Agab van Israel, moedig sy die volk aan om aan die God van Israel ontrou te wees en ander gode te dien (1 Konings 21:25-26).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS