Bible Society of South Africa

Hiskia

Hiskia was vanaf ongeveer 725 tot 697 v.C. koning oor die suidelike ryk van Juda. Sy opstand teen die Assiriese onderdrukkers lei tot die verwoesting van groot dele van die land. Tog sien die Bybelskrywers Hiskia as ʼn goeie koning omdat hy toegesien het dat afgode nie langer aanbid is nie.

Die naam Hiskia

Die naam Hiskia of Jehiskia beteken “my krag is die Here”. Hiskia was die seun van koning Agas. Hy was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en het 29 jaar in Jerusalem regeer.


Die eerste deel van die boek Jesaja word gewy aan die regering van Hiskia. Die optrede van die profete Hosea en Miga dateer ook tydens sy regering (Hosea 1:1; Miga 1:1).

Opstand teen Assirië

Onder Hiskia se vader Agas het Juda ʼn vasalstaat van Assirië geword. Toe die Assiriese koning Sargon II in 705 v.C. sterf, kom Hiskia in opstand. Hy betaal nie meer belasting nie en berei Jerusalem en ander stede voor vir ʼn Assiriese aanval. Hiskia se tonnel is waarskynlik in hierdie tyd gegrawe.


Die nuwe Assiriese koning Sanherib onderdruk die opstand met ʼn ystervuis, maar slaag nie daarin om Jerusalem te verower nie. Volgens die Bybelverhaal beskerm God die stad op ʼn wonderlike manier. Hy vernietig die leër van die Assiriërs, met die gevolg dat die Assiriërs onttrek.


Assiriese bronne noem slegs dat Sanherib Hiskia opsluit “soos ʼn voël in ʼn kou” en hom dwing om nog meer belasting te betaal (sien 2 Konings 18:13-15). Daar word nie gesê hoekom koning Sanherib Jerusalem nie verower het nie.

Godsdienstige hervormings

Hiskia se stryd vir die onafhanklikheid van Juda word ook verbind aan godsdienstige hervormings. Hy laat al die altare buite Jerusalem vernietig en sien toe dat die volk geen ander gode aanbid nie. Volgens 2 Kronieke 30:1-3 sien Hiskia toe dat die paasfees weer gevier word. Hy roep almal op om na die tempel in Jerusalem te kom.

Trou aan God

Hiskia vertrou God ook in sy persoonlike lewe. Tydens ʼn ernstige siekte bid hy tot God. God luister na hom en stuur die profeet Jesaja om hom gesond te maak (2 Konings 20:1-11; Jesaja 38).


Op grond van sy hervormings en sy vertroue op God, loof die Bybelskrywers Hiskia as een van die beste konings van Juda, naas Dawid en Josia.



 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS