Bible Society of South Africa

Babiloniese ballingskap

Die eerste keer toe die inwoners van Juda in gevangenskap weggevoer is (sien eerste wegvoering na Babilonië), is onmiddellik opgevolg deur ʼn tweede ballingskap. Weer eens word ʼn deel van die bevolking van Juda deur die Babiloniërs weggevoer.

Koning Sedekia

Ná die opstand onder Jojakim het Nebukadnesar ʼn nuwe koning met die naam Sedekia in Juda aangestel. Die opstand teen Babilonië was steeds sluimerend onder die volk. Die profeet Jeremia het koning Sedekia gewaarsku teen diegene wat tot verset oproep (sien Jeremia 27:12-14).


Tog word Sedekia in elk geval betrokke by ʼn opstand. Nebukadnesar het weer met die Babiloniese leër na Juda opgetrek, en in 586 v.C. het hy Jerusalem verower. Die stadsmure is afgebreek en die tempel en die paleis is verwoes. Weer eens is ʼn deel van die bevolking van Juda weggevoer na Babilonië.

Wie is in ballingskap weggevoer?

Die presiese getal Judeërs wat na Babilonië weggevoer is, is onbekend. Dit was waarskynlik ongeveer 15 000 mense. Daar word nie presiese getalle in die Bybel aangedui nie. Volgens Jeremia 52:29 was dit nie meer as 832 mense nie, maar in Esra 2:64 en Nehemia 7:66 word vermeld dat 42 360 mense uit ballingskap teruggekeer het.


Dit is in elk geval duidelik dat dit nie die hele bevolking was wat in ballingskap weggevoer is nie. Die elite is weggevoer, maar die armer deel van die bevolking is agtergelaat.

Die Judeërs in Babilonië

In Babilonië het die inwoners van Juda as ballinge gelewe. Baie van hulle wou graag na hulle eie land terugkeer (soos bv blyk uit Psalm 137), maar ander het heeltemal tuis gevoel in Babilonië. Hulle het ʼn nuwe lewe daar gevestig. Sommige ballinge het belangrike posisies in Babilonië se regering behaal. Twee belangrike voorbeelde hiervan in die Bybel is Daniël en sy vriende (Daniël 1:1-7), asook Nehemia (Nehemia 1:11). Nog ʼn bekende balling was die profeet Esegiël (Esegiël 1:1-12).

Die terugkeer

In die sesde eeu v.C. het die Persiese Ryk al sterker geword in die Midde-Ooste. In 538 v.C. het die Perse die Babiloniërs verslaan. Die Persiese koning, Kores, het toestemming aan die Judese ballinge gegee om na hulle eie land terug te keer (Esra 3:7-13).

Betekenis van die ballingskap

Alhoewel net ʼn gedeelte van die bevolking na Babilonië weggevoer is, het die ballinskap ʼn enorme indruk gemaak.


In bybelse tekste wat ná die ballingskap geskryf is (soos Jesaja en Joël), is die ballingskap vertolk as God se straf oor die hele volk. Die verwoesting van Jerusalem en die ballingskap is gesien as ʼn straf vir Juda se ongehoorsaamheid (sien ook na-eksiliese profete).


Die Babiloniese ballingskap het nie ʼn einde gebring aan die tradisies en verhale wat oorgelewer is nie. Inteendeel, die ballingskap het eintlik ʼn geleentheid gebied vir mondelinge tradisies om neergepen te word. Die hele geskiedenis van die volk Israel soos beskryf in die boeke van die Ou Testament, word beskou in die lig van die ballingskap.

 

 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS