1Wysheid het vir haar 'n huis gebou met sewe klippilare.
2Sy het geslag en wyn reggesit,
sy het haar tafel gedek
3en haar bediendes na die stad toe gestuur
om van die hoogste plek af te roep:
4“Kom hiernatoe, almal wat nog moet leer!”
En vir dié wat kennis kortkom, het sy gesê:
5“Kom eet by my,
kom drink van die wyn wat ek reggesit het!
6Neem afskeid van die onkunde, dat julle kan lewe,
kom op die pad van die insig!”
7Wie iemand so opvoed dat hy 'n ligsinnige mens word,
moet die verwyt daarvoor dra;
wie iemand so leer dat hy 'n goddelose word,
doen dit tot sy eie skande.
8Moenie 'n ligsinnige mens probeer opvoed nie,
hy sal jou daarvoor haat.
Voed 'n wyse op, en hy sal lief wees vir jou.
9Gee jou aandag aan 'n wyse mens, en hy kry meer wysheid,
leer 'n regverdige, en sy kennis vermeerder.
10Wysheid begin met die dien van die Here;
wie die Heilige ken, het werklik insig.
11As jy wysheid het, sal jy lank lewe,
jou lewensjare sal vermeerder word.
12As jy wysheid het, het jy self die voordeel daarvan;
as jy 'n ligsinnige mens is, dra jy alleen die las.
13Dwaasheid is soos 'n vrou wat luidrugtig bly klets,
stadig van begrip en sonder kennis van sake.
14Sy sit by haar voordeur,
haar stoel staan op die hoogste plek in die stad,
15en sy roep na dié wat verbykom,
elkeen besig om sy gang te gaan:
16“Draai af hiernatoe, almal wat nog onervare is!”
Sy sê vir dié wat kennis kortkom:
17“Gesteelde water is soet,
kos wat stilletjies geëet word, is lekker!”
18Dié wat na haar luister,
besef nie dat die dood self daar wag nie,
dat dié wat hulle deur haar laat nooi het,
klaar diep in die doderyk is nie.