1So sê die Here:
Ek laat 'n verwoestende wind oor Babel waai
en oor die inwoners van Leb-Kamai.
2Ek stuur mense om Babel uit te skud,
hulle sal sy land leegstroop
wanneer hulle hom van alle kante af bestorm
die dag as die ramp losbreek.
3Moenie die boogskutters van Babel kans gee
om hulle boë te span of hulle harnasse aan te trek nie!
Moenie jammer wees vir sy jongmanne nie,
roei sy hele leër uit!
4Galdeërland sal vol dooies lê,
sy strate vol gesneuweldes.
5Israel en Juda is nie alleen nie,
nie sonder sy God, nie sonder die Here die Almagtige nie.
Galdeërland het hom vergryp
teen die Heilige van Israel.
6Vlug uit Babel uit, red julleself,
moenie deur sy sonde omkom nie!
Die tyd is daar dat die Here Hom wreek,
dat Hy Babel sy verdiende loon laat kry.
7Babel was 'n goue beker in die hand van die Here,
'n beker wat die hele wêreld dronk laat word het:
die nasies het van sy wyn gedrink
en daarvan mal geword.
8Babel kom skielik tot 'n val, hy stort ineen!
Huil oor hom, gaan haal balsem vir sy wonde,
miskien word hy gesond!
9Ons het Babel gedokter, maar hy het nie gesond geword nie.
Gee pad uit hom, kom ons gaan elkeen na sy land toe,
want die straf wat hom tref, strek tot aan die hemel,
reik tot by die wolke.
10Die Here het vir ons redding gebring;
kom ons gaan vertel in Sion
wat die Here ons God gedoen het.
11Maak skerp die pyle, vat die skilde!
Die Here het die konings van Medië in beweging gebring,
want Hy het besluit dat Babel verwoes moet word.
Die Here gaan Hom wreek oor wat met sy tempel gebeur het.
12Steek 'n vaandel op teen die mure van Babel,
versterk die wagposte, sit wagte uit,
stel hinderlae op,
want die Here gaan sy besluit uitvoer,
Hy gaan met die inwoners van Babel doen wat Hy gesê het.
13Jy wat langs die baie waters woon,
met jou baie skatte,
jou einde het gekom,
jou lewensdraad word geknip.
14Die Here die Almagtige het 'n eed afgelê by Homself:
Ek laat die vyande soos sprinkane op jou toesak,
en hulle sal met 'n geskreeu die oorwinning oor jou vier.
15Dit is die Here wat met sy krag die aarde gemaak het,
wat met sy wysheid die wêreld gevestig het
en met insig die hemel oopgesprei het.
16Wanneer Hy sy stem laat hoor, druis die water in die hemel;
Hy laat die mis opstyg van die eindes van die aarde af,
Hy laat die weerlig slaan wanneer dit reën,
Hy laat die wind uit sy voorraadskure uitkom.
17Dan sien elke mens hoe dom,
hoe sonder kennis hy is;
dan staan elke goudsmid verleë met sy afgodsbeeld,
want sy beeld is bedrog, daar is geen lewe in nie.
18Hulle is nikswerd gode, voorwerpe van spot,
hulle vergaan as die tyd van afrekening kom.
19Die God van Jakob is nie soos hulle nie,
Hy is die Skepper van alles en almal.
Daar is 'n volk wat aan Hom behoort.
Die Here die Almagtige is sy Naam.
20Jy was my hamer, Babel, my oorlogswapen;
Ek het nasies met jou verslaan,
Ek het koninkryke met jou vernietig;
21Ek het perde en ruiters met jou verslaan,
Ek het strydwaens en bemannings met jou verslaan,
22Ek het mans en vrouens met jou verslaan,
oumense en jongmense,
jongmanne en jongmeisies,
23herders en kuddes,
boere en trekdiere,
goewerneurs en gesagdraers.
24Maar Ek sal Babel en al die inwoners van Galdeërland laat boet vir al die kwaad wat hulle voor julle oë in Sion aangerig het, sê die Here.
25Ek gaan teen jou optree, verwoestersberg,
sê die Here,
jy wat die hele aarde verwoes het;
Ek gaan my hand teen jou uitsteek
en jou van die rotse afrol;
Ek maak jou 'n uitgebrande berg.
26Mense sal nie uit jou 'n hoekklip kom vat
of 'n fondamentklip nie;
jy sal altyd verlate lê, sê die Here.
27Hou 'n vaandel op oor die aarde,
blaas die ramshoring onder die nasies,
maak hulle gereed om Babel aan te val,
roep koninkryke teen hom op:
Ararat, Minni en Askenas;
benoem 'n bevelvoerder vir die aanslag,
bring perde soos sprinkaanswerms!
28Maak die nasies gereed om Babel aan te val,
maak gereed die konings van Medië,
sy goewerneurs, sy hoë amptenare,
en al sy onderhorige lande.
29Die land skud en bewe,
want wat die Here teen Babel besluit het, staan vas:
om die gebied van Babel 'n verlate plek te maak,
sonder inwoners.
30Babel se soldate het opgehou veg,
hulle sit in die vestings,
hulle krag is weg, hulle is soos vrouens;
sy woonhuise word afgebrand,
sy sluitbalke word gebreek.
31Die een hardloper na die ander hardloop,
die een boodskapper na die ander,
om vir die koning van Babel te sê
dat sy stad heeltemal ingeneem is,
32dat die brûe beset is, dat die riete langs die rivier brand
en dat die soldate paniekbevange is.
33So sê die Here die Almagtige, die God van Israel:
Babel is soos 'n dorsvloer,
en die tyd is daar dat hy vasgestamp moet word;
nog net 'n rukkie, dan is die tyd daar
dat die graan op hom uitgedors word.
34Koning Nebukadnesar van Babel het ons opgevreet, ons verteer, ons 'n leë kruik gemaak;
soos 'n monster het hy ons ingesluk en hom dik gevreet,
hy het ons leeggedrink en weggestoot.
35Dié wat in Sion woon, sê:
“Babel moet gestraf word
vir die geweld wat ons aangedoen is,
vir die verminking.”
Jerusalem sê:
“Die inwoners van Galdeërland moet gestraf word
vir ons bloed wat vergiet is.”
36So sê die Here:
Ek sal vir julle reg opkom,
Ek sal Babel straf vir wat jou aangedoen is:
Ek sal sy baie water laat opdroog,
ook die plek waar die water vandaan kom.
37Babel sal 'n puinhoop word,
'n blyplek vir jakkalse, 'n verlate plek
waaroor mense fluit van verbasing,
'n plek sonder inwoners.
38Sy inwoners brul nou almal soos leeus,
hulle knor soos leeuwelpies,
39maar terwyl hulle so humeurig is,
sit Ek vir hulle 'n feesmaal voor
en maak Ek hulle so dronk
dat hulle eers jolig raak
en dan vir altyd aan die slaap raak
sonder om wakker te word,
sê die Here.
40Soos lammers, soos skaapramme en bokramme
vat Ek hulle na die slagplek toe.
41Sesak, so beroemd oor die hele aarde,
is verower, is ingeneem!
Babel het 'n verlate plek geword in die volkerewêreld!
42Die waters het oor Babel gestroom,
hy is bedek deur bruisende golwe.
43Sy stede lê verlate,
sy land is 'n dor, droë vlakte;
daar woon geen mens nie
en niemand gaan daar langs nie.
44Ek gaan vir Bel straf in Babel,
Ek sal hom laat opbring wat hy ingesluk het,
en nasies sal nie meer na hom toe stroom
as ballinge nie.
Babel se mure sal val;
45kom uit hom uit, my volk,
red julleself voordat my gloeiende toorn teen hom losbreek.
46Moenie moed verloor en bang word
wanneer daar gerugte rondgaan in die land nie:
daar kom jaar vir jaar gerugte.
Daar sal geweld in die land losbreek,
regeerders sal mekaar beveg,
47maar die tyd kom dat Ek afreken met Babel se afgode,
dat sy hele land verslaan sal wees,
sy dooies oral in hom rondlê.
48Hemel en aarde en alles in hulle
sal juig oor Babel se val,
want dié wat hom sal verwoes,
is aan die kom uit die noorde,
sê die Here.
49Deur Babel se toedoen het mense oor
die hele aarde gesneuwel,
en so sal hý sneuwel
oor dié wat van Israel gesneuwel het.
50Julle wat aan die swaard ontkom het,
gee pad, moenie staan nie!
Dink daar uit die verte aan die Here,
hou Jerusalem in gedagte.
51Ons is verneder en beledig,
daar het skande oor ons gekom,
want vreemdes het ingestap
in die gewyde gebied van die huis van die Here.
52Daarom kom die tyd, sê die Here,
dat Ek met Babel se afgode sal afreken:
die gewondes sal kerm dwarsoor sy land.
53Al word Babel hemelhoog,
al versterk hy sy hoë vestings ook hoe,
Ek stuur verwoesters na hom toe,
sê die Here.
54Daar word om hulp geroep uit Babel,
daar klink harde smartkrete uit Galdeërland,
55want die Here verwoes Babel
en maak 'n einde aan sy geraas.
Soos groot waters sal die golwe van sy vyande
teen hom aangedreun kom
en sal hulle krygsgeskreeu weerklink.
56Ja, daar trek 'n verwoester op teen hom, teen Babel,
en sy soldate word gevange geneem, hulle boë stukkend gebreek,
want die Here is 'n God wat vergeld,
en Hy sal voluit straf.
57Ek sal sy amptenare, sy raadgewers, sy goewerneurs,
sy offisiere, sy soldate dronk laat word,
en hulle sal vir altyd aan die slaap raak
sonder om wakker te word,
sê die Koning.
Sy Naam is die Here die Almagtige.
58So sê die Here die Almagtige:
Die dik vestingmuur van Babel sal gesloop word,
sy hoë poorte sal afgebrand word:
mense het geswoeg vir niks,
nasies het hulle afgesloof vir iets wat vir die vuur bestem is.
Die opdrag aan Seraja
59Die opdrag wat die profeet Jeremia aan Seraja seun van Nerija, seun van Magseja, gegee het toe hy saam met koning Sedekia van Juda in sy vierde regeringsjaar na Babel toe vertrek het; Seraja was kwartiermeester, 60en Jeremia het al die onheil wat Babel sou tref, alles wat oor Babel neergeskryf was, in een boekrol opgeskryf 61en vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, moet jy alles hardop lees 62en sê: ‘Here, U het van hierdie plek gesê dat U hom so sal verwoes dat geen mens of dier weer in hom sal woon nie en dat hy altyd verlate sal wees.’
63“Wanneer jy hierdie boekrol klaar hardop gelees het, moet jy 'n klip aan hom vasbind en hom in die Eufraat gooi 64en sê: So sal Babel wegsink en nie opkom nie as gevolg van die onheil wat Ek oor hom bring; sy inwoners het hulle afgesloof vir niks, sê die Here.”
Tot sover die woorde van Jeremia.