Oor Babel
1Wat die Here deur die profeet Jeremia oor Babel en oor Galdeërland gesê het:
2Vertel vir al die nasies, kondig dit aan!
Hou 'n vaandel op, kondig dit aan!
Moet dit nie stil hou nie, sê:
Babel is ingeneem, Bel is verslaan,
Marduk staan verskrik,
Babel se beelde staan verslae,
sy afgode staan verskrik.
3Daar trek 'n nasie uit die noorde teen hom op
en maak sy land 'n verlate plek;
daar woon niemand meer nie,
mens en dier het op die vlug geslaan.
4Dan, daardie tyd, sê die Here,
sal die Israeliete en die Judeërs saam vertrek.
Hulle sal huil-huil loop
en na die wil van die Here hulle God vra.
5Hulle sal die pad vra na Sion toe,
hulle sal hiernatoe kom en sê:
“Kom ons bind ons aan die Here
in 'n blywende verbond wat nie vergeet sal word nie.”
6My volk was skape wat weggeraak het:
hulle herders het hulle laat verdwaal,
hulle in die berge laat rondswerf;
die skape het van die een berg na die ander toe geloop
en vergeet waar hulle rusplek is.
7Hulle is opgeëet deur enigeen wat op hulle afgekom het,
en hulle vyande het gesê: “Ons het nie skuld daaraan nie,
dit gebeur omdat hierdie volk gesondig het teen die Here,
die Here by wie hulle 'n ware tuiste kon vind
en op wie hulle voorvaders hulle hoop gevestig het.”
8Vlug uit Babel uit, gaan uit Galdeërland uit,
wees soos die voorbokke voor die kleinveetrop!
9Ek gaan uit 'n land in die noorde
'n groep groot nasies laat kom
en hulle teen Babel laat optrek.
Hulle sal in gelid teen hom opruk
en hy sal van die noorde af ingeneem word.
Hulle pyle is soos dié van 'n soldaat
wat kinders wees laat word:
elke pyl skiet raak.
10Galdeërland sal geplunder word,
en dié wat plunder, sal oorgenoeg kry,
sê die Here.
11Ja, wees maar vrolik, jubel maar,
julle wat nou my eiendom plunder!
Huppel maar soos 'n verskalf wat koring uittrap,
runnik maar soos hingste!
12Daar wag groot ontnugtering vir julle stad, vir Babel,
daar wag vernedering vir die volk waaruit julle kom:
hy gaan die minste word van die nasies,
sy land gaan 'n dor woestyn, 'n droë vlakte word.
13In my toorn maak Ek hom onbewoonbaar,
hy sal heeltemal verlate word:
elkeen wat by Babel verbykom, sal verbyster staan
en fluit van verbasing oor alles waardeur die stad getref is.
14Ruk van alle kante af op teen Babel,
almal met pyl en boog!
Skiet hom, moenie spaarsaam wees met die pyle nie!
Hy het teen die Here gesondig.
15Laat die krygsgeskreeu van alle kante af teen hom klink!
Hy gee oor, sy torings val, sy mure word afgebreek!
Dit is die Here wat Hom op Babel wreek:
wreek julle op hom,
doen aan hom wat hy aan julle gedoen het!
16Laat uit Babel die saaier verdwyn
en dié wat in die oestyd koring sny!
Elkeen sal padgee na sy eie volk toe,
elkeen sal na sy eie land toe vlug
voor die swaard wat so wild te kere gaan!
17Israel is 'n verjaagde skaap,
leeus het hom rondgejaag.
Eers het die koning van Assirië hom opgevreet, en nou het koning Nebukadnesar van Babel sy bene skoongevreet. 18Daarom, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel, sal Ek die koning van Babel en sy land straf soos Ek die koning van Assirië gestraf het. 19Maar vir Israel sal Ek terugbring na sy weiveld toe, en hy sal op Karmel en in Basan wei, hy sal volop te wei hê op die Efraimsberge en in Gilead. 20Dan, in daardie tyd, sê die Here, sal daar navraag gedoen word na die sonde van Israel, na die oortredings van Juda, maar daar sal niks wees nie, niks gevind word nie, want Ek sal die sonde van dié wat Ek laat oorbly, vergewe.
21Trek op teen Meratajim
en teen die inwoners van Pekod,
maak hulle dood, roei hulle heeltemal uit,
sê die Here,
maak met hulle presies soos Ek jou beveel!
22Daar is oorlogsrumoer in die land,
daar is groot verwoesting!
23Hoe gebreek, hoe in stukke lê die hamer nou
waaronder die hele aarde moes ly!
Hoe verlate het Babel geword tussen die nasies!
24Ek het vir jou 'n strik gespan
waarvan jy nie geweet het nie, Babel,
en jy is daarin gevang;
jy is betrap en vasgevang
omdat jy die stryd teen My, die Here, aangebind het.
25Die Here het sy arsenaal oopgemaak
en die wapens van sy toorn uitgehaal,
want Hy, die Here God, die Almagtige,
het werk te doen in Galdeërland:
26Val die land binne van alle kante af,
breek oop sy graanskure!
Gooi die lyke van sy inwoners op hope
soos hope graan,
roei hulle heeltemal uit,
moet niemand laat oorbly nie!
27Steek al sy leiers dood,
maak hulle van kant!
Ellende wag vir hulle, hulle dag het gekom,
die tyd is daar dat hulle gestraf word.
28Luister hoe die vlugtelinge, dié wat uit Babel ontkom het,
in Sion kom vertel hoe die Here ons God Hom gewreek het,
Hom gewreek het oor sy tempel!
29Roep baie manskappe op teen Babel, al die boogskutters;
laat hulle kamp opslaan rondom hom,
moenie dat een vrykom nie.
Betaal hom terug vir wat hy gedoen het,
doen aan hom soos hy aan ander gedoen het,
want hy was hooghartig teen die Here,
teen die heilige God van Israel.
30Dit is daarom dat sy jongmanne op sy strate sal sneuwel,
dat al sy soldate omgebring sal word
wanneer die tyd daar is, sê die Here.
31Ek gaan optree teen jou, hooghartige land,
sê die Here God, die Almagtige,
want jou dag het gekom,
die tyd is daar dat Ek jou gaan straf.
32Die hooghartige land struikel, hy val
en niemand help hom op nie.
Ek steek sy stede aan die brand,
die vuur sal almal rondom hom verteer.
33So sê die Here die Almagtige:
Die Israeliete word verdruk,
en saam met hulle die Judeërs.
Dié deur wie hulle gevange gehou word,
hou hulle vas en weier om hulle vry te laat.
34Maar hulle Beskermer is magtig;
sy Naam is die Here die Almagtige.
Hy sal vir hulle reg opkom:
Hy sal rus bring in die land Israel,
maar onrus vir die inwoners van Babel.
35Trek die swaard teen die Galdeërs, sê die Here,
teen die inwoners van Babel,
teen sy amptenare en sy raadgewers;
36trek die swaard teen sy waarsêers
dat dit kan blyk watter onsin hulle praat;
trek die swaard teen sy soldate
dat hulle skrikbevange kan word;
37trek die swaard teen sy perde en sy strydwaens,
teen die huurtroepe by hom
dat hulle soos vrouens word;
trek die swaard teen sy skure
dat hulle geplunder word;
38lê droog sy gragte dat hulle opdroog;
hy is 'n land vol afgodsbeelde
wat mal word van die skrik wat hulle tref.
39Die stad sal bewoon word deur hiënas en jakkalse,
daar sal volstruise bly;
die stad sal nooit weer bewoon word nie,
niemand sal ooit weer daar bly nie.
40Soos God vir Sodom en Gomorra en hulle buurdorpe
verwoes het, sê die Here,
so sal niemand in Babel woon nie;
geen mens sal daar wil bly nie.
41Daar kom 'n volk uit die noorde, 'n groot nasie,
baie konings ruk op uit die uithoeke van die aarde.
42Hulle is gewapen met pyl en boog en swaard,
hulle is wreed en spaar niemand nie.
Hulle krygsgeskreeu dreun soos die see,
hulle kom aan op hulle perde,
hulle soldate is reg vir die aanval op jou, Babel.
43Die koning van Babel het die gerug oor hulle gehoor,
sy hande hang slap, angs pak hom beet,
benoudheid soos dié van 'n vrou
wat 'n kind in die wêreld bring.
44Soos 'n leeu uit die digte Jordaanbos toeslaan
op 'n weiveld aan 'n standhoudende stroom,
so sal Ek die mense van Babel eensklaps verjaag uit hulle land,
en Ek sal vir dié taak aanwys wie Ek verkies.
Wie is soos Ek, wie kan My tot verantwoording roep?
Wie is die regeerder wat teen My kan standhou?
45Hoor wat die Here besluit het,
wat sy beslissing oor Babel is,
wat Hy Hom voorgeneem het
oor Galdeërland:
hulle sal weggesleep word
deur hulle eie jongmanne,
die Galdeërs se woonplek sal deur hulle eie toedoen verwoes word.
46Die aarde sal skud van die dreuning
wanneer Babel ingeneem word,
die geroep om hulp sal gehoor word deur die ander nasies.