Kom ons tog te hulp
1Vir die koorleier. Van die Koragiete. 'n Gedig.
2Met ons eie ore het ons gehoor, o God,
ons vaders het ons dit vertel,
dat U in die ou dae,
in die gryse verlede, 'n groot daad gedoen het.
3U het nasies met u eie hand verdryf,
maar u volk 'n vaste woonplek gegee.
U het nasies se mag verbreek
om aan u volk vryheid te gee.
4Dit is nie met die swaard
dat u volk die land in besit geneem het nie,
nie deur hulle eie mag
dat hulle die oorwinning behaal het nie,
maar deur u krag, u mag en u teenwoordigheid,
omdat U hulle liefgehad het.
5U is my koning, o God;
gee tog aan Jakob se nageslag die oorwinning.
6Met u hulp sal ons ons teëstanders verslaan,
in u Naam sal ons dié oorwin wat teen ons opstaan.
7Op my boog vertrou ek nie
en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie,
8want dit is U wat ons die oorwinning oor ons teëstanders gegee het
en ons vyande die aftog laat blaas het.
9Ons het God die hele dag deur geprys
en sy Naam altyddeur geloof. Sela
10Tog het U ons nou verstoot en ons in die skande laat kom.
U trek nie meer saam met ons leërs uit nie.
11U laat ons vlug voor ons teëstanders;
ons vyande plunder na hartelus;
12U lewer ons uit: ons is soos slagskape.
U verstrooi ons onder die nasies;
13U gee u volk sommerso weg, vir niks;
daar steek geen voordeel vir U in nie.
14U stel ons bloot aan die veragting van ons bure,
aan die spot en beskimping van almal rondom ons.
15U maak ons tot 'n bespotting onder die nasies,
'n minagting onder die mense.
16Ek gaan dag vir dag gebuk onder die skande,
en die smaad is op my gesig te lees,
17want ek hoor net die spottaal van die vyand
en die godslastering van dié wat op wraak uit is.
18Al hierdie dinge het oor ons gekom,
hoewel ons U nie vergeet het nie
en aan u verbond nie ontrou was nie.
19Ons het nie afvallig geword nie
en van u pad nie afgewyk nie.
20Tog het U ons verwoes;
ons land het 'n puinhoop geword;
U het die donker oor ons laat toesak.
21As ons die Naam van ons God nie aangeroep het nie
en 'n vreemde god om hulp gevra het,
22sou God dit dan nie kon vasstel nie?
Hy ken immers die geheime van die hart.
23Dit is oor U dat die dood ons gedurig tref,
dat ons soos slagskape behandel word.
24Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here?
Word tog wakker! Moet ons nie vir altyd verstoot nie!
25Waarom draai U u rug vir ons?
Waarom steur U U nie aan ons ellende en smaad nie?
26Ons is tot in die stof verneder,
ons is teen die grond.
27Kom ons tog te hulp
en bevry ons, dat so u troue liefde blyk.