Mens, waarom so in vertwyfeling?
1Vir die koorleier. 'n Gedig van die Koragiete.
2Soos 'n wildsbok smag na waterstrome,
so smag ek na U, o God.
3Ek dors na God, na die lewende God.
Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn?
4Dag en nag is ek in trane,
want sonder ophou sê hulle vir my:
“En waar is jou God nou?”
5As ek my lewe voor my laat verbygaan,
dink ek daaraan
hoe ek opgetrek het na die woonplek van God,
voor 'n skare uit na sy huis toe geloop het
met gejuig en lofsang – 'n skare wat feesvier.
6Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing.
Hy is my helper 7en my God!
Uit my vertwyfeling roep ek na U
hier van die Jordaangebied, van Hermonberg,
van die Kleinberg af
8waar die waters teen mekaar raas
en u waterstrome bruis.
U het golf na golf oor my laat slaan.
9Tog sal die Here weer op 'n dag sy trou laat blyk
en sal ek selfs in die nag 'n lied vir Hom sing,
'n gebed tot die God van my lewe.
10Ek wil vir God sê:
“My Rots, waarom het U my vergeet?
Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?”
11Dit sny deur my hele wese as my teëstanders my spot
en dag na dag vir my sê:
“En waar is jou God nou?”
12Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing.
Hy is my helper en my God!