1Die stem het vir my gesê: “Mens, eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol en gaan praat met die mense van Israel.”
2Ek het my mond oopgemaak, en die Here het my die boekrol laat eet. 3Hy het vir my gesê: “Mens, eet die boekrol wat Ek jou gee, eet jou vol.”
Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond.
4Toe sê Hy vir my: “Mens, gaan na die mense van Israel toe en sê vir hulle wat Ek sê. 5Jy word nie gestuur na 'n volk wat 'n onverstaanbare, moeilike taal praat nie, maar na die mense van Israel toe, 6ook nie na baie volke toe met onverstaanbare, moeilike tale sodat jy nie kan verstaan wat hulle praat nie. Het Ek jou maar na hulle toe gestuur! Hulle sou na jou geluister het. 7Maar die mense van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie eens na My luister nie. Al die mense van Israel is koppig en onversetlik. 8Maar Ek maak jou net so onversetlik as wat hulle is, jou kop net so hard as hulle s'n. 9Soos diamant, harder as rots, so maak Ek jou kop. Moenie vir hulle bang wees, vir hulle skrik nie. Hulle is 'n weerbarstige volk.”
10Hy het verder vir my gesê: “Mens, onthou alles wat Ek vir jou sê, luister goed daarna 11en gaan na die ballinge toe, na jou volksgenote toe; spreek hulle aan, sê vir hulle wat Ek, die Here God, sê, of hulle luister of nie.”
12Die Gees het my opgetel, en toe hoor ek agter my die gedreun van 'n groot aardbewing en 'n stem: “Die hemel self moet die magtige verskyning van die Here loof!”
13Daar was die geruis van die wesens se vlerke wat aan mekaar geraak het, die gedreun van die wiele daarmee saam en die gedreun van die groot aardbewing. 14Die Gees het my opgetel en my weggevat, en ek is daar weg, swaarmoedig en ontsteld. Die mag van die Here het my op 'n harde manier in besit geneem. 15Ek het by die ballinge in Tel-Abib aangekom. Hulle het daar in die omgewing van die Kebarrivier gewoon, en ek het sewe dae lank verskrik daar tussen hulle gesit.
16Ná die sewe dae het die woord van die Here tot my gekom: 17“Mens, Ek het jou aangestel as 'n wag vir Israel: jy moet luister na wat Ek sê en hulle namens My waarsku.
18“Wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood. 19As jy hom waarsku en hy bekeer hom nie van sy goddeloosheid nie, van sy bose optrede nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar jy sal jou eie lewe behou.
20“En wanneer iemand wat tot dusver reg gelewe het, die regte lewe laat vaar en onreg doen, en Ek bring hom tot 'n val, sal hy sterwe. Omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterf en sal die goeie dinge wat hy gedoen het, nie onthou word nie, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood. 21As jy hom waarsku om nie te sondig nie, en hy sondig nie, sal hy bly lewe omdat hy hom laat waarsku het, en jy sal jou eie lewe behou.”
22Die mag van die Here het my daar in besit geneem. Hy het vir my gesê: “Gaan na die vallei toe, Ek sal daar met jou praat.”
23Ek is toe na die vallei toe. Die magtige verskyning van die Here het daar gestaan, net soos ek Hom aan die Kebarrivier gesien het. Ek het platgeval, 24maar die Gees het in my gekom en my regop laat staan. Die Here het met my gepraat, Hy het vir my gesê: “Gaan sluit jou toe in jou huis. 25Mens, jy sal vasgebind word met toue, sodat jy nie tussen die mense kan kom nie. 26Ek laat jou tong aan jou verhemelte vassit, sodat jy nie kan praat nie en hulle nie kan bestraf nie, al is hulle 'n weerbarstige volk. 27Maar wanneer Ek jou die opdrag gee en jou tong losmaak, moet jy vir hulle sê wat Ek, die Here God, sê. Laat dan luister wie wil en laat skouers optrek wie wil: hulle is 'n weerbarstige volk.”