Rispa en haar seuns
1In Dawid se tyd was daar 'n keer hongersnood wat drie jaar aanmekaar geduur het. Dawid het toe die Here geraadpleeg, en die Here het geantwoord: “Dit is te wyte aan Saul en sy moordenaarshuis, want hy het van die Gibeoniete laat doodmaak.”
2Die koning het toe die Gibeoniete laat roep. Hulle was natuurlik nie Israeliete nie, maar 'n oorblyfsel van die Amoriete. Die Israeliete het 'n verdrag met hulle gesluit gehad, maar later het Saul hulle probeer uitroei in sy geesdrif vir die saak van Israel en Juda.
3Dawid het vir die Gibeoniete gesê: “Wat moet ek vir julle doen en hoe moet ek julle vergoed sodat die land van die Here weer sy oeste kan lewer?”
4Die Gibeoniete het hierop geantwoord: “Ons verwag nie silwer of goud van Saul en sy familie nie en ook nie dat iemand in Israel doodgemaak moet word nie.”
Dawid vra toe: “Wat wil julle dan hê moet ek vir julle doen?”
5Hulle antwoord die koning: “Daar was 'n man wat ons wou uitroei en wat beplan het om ons te verdelg sodat ons nie in die grondgebied van Israel kon voortbestaan nie. 6Daar moet nou sewe mans uit sy familie aan ons gegee word, sodat ons hulle kan doodmaak en voor die Here kan ophang by Gibea van Saul, die man wat deur die Here uitgekies was.”
Dawid het geantwoord: “Goed, ek sal dit doen.”
7Die koning het Mefiboset, seun van Jonatan seun van Saul, gespaar vanweë die verbond wat in die Naam van die Here tussen Dawid en Saul se seun Jonatan bestaan het.
8Maar die koning het vir Armoni en Mefiboset, die twee seuns wat Rispa dogter van Aja by Saul gehad het, gevat asook die vyf seuns van Saul se dogter Merab wat sy gehad het by Adriël seun van Barsillai die Megolatiet. 9Hy het hulle almal uitgelewer aan die Gibeoniete wat hulle doodgemaak en voor die Here op die berg opgehang het. Die sewetal het saam omgekom. Hulle is gedood teen die tyd dat daar gewoonlik begin word met die garsoes.
10Rispa dogter van Aja het toe rouklere gevat en dit vir haar op 'n rots oopgegooi. Van die begin van die oestyd af totdat die reëntyd aangebreek het, het sy bedags die roofvoëls en snags die roofdiere nie aan die lyke laat vreet nie. 11Toe daar aan Dawid meegedeel is wat Aja se dogter Rispa, 'n byvrou van Saul, gedoen het, 12het hy die bene van Saul en sy seun Jonatan laat haal by die burgers van Jabes in Gilead. Hulle het dit destyds op die stadsplein van Bet-San gaan steel waar die Filistyne dit opgehang het toe Saul op Gilboa verslaan is. 13Hy het Saul en sy seun Jonatan se bene daarvandaan laat bring en ook dié van die manne wat op die berg opgehang is 14en almal by Sela in Benjamin laat begrawe in die graf van Kis, Saul se pa. Alles is gedoen net soos die koning beveel het. Daarna het God weer gebede vir die land verhoor.
Dawid se oorloë teen die Filistyne
15Daar het oorlog uitgebreek tussen die Filistyne en die Israeliete. Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne gaan veg en Dawid het moeg geword. 16Jisbi van Nob, uit die geslag van die Refaïete, het toe gedink hy kan Dawid sonder moeite doodmaak. Jisbi se bronsspies het byna vier kilogram geweeg, en hy het 'n nuwe uitrusting gehad. 17Seruja se seun Abisai het Dawid egter gehelp en die Filistyn platgeslaan en doodgemaak. Toe het die manne van Dawid vir hom gesê: “U wat die lamp van Israel is, mag nie meer saam met ons na die oorlog toe uittrek nie, sodat die lamp nie doodgeblaas sal word nie.”
18Daarna was daar weer oorlog teen die Filistyne in Gob. Daar het Sibbekai uit Gusa vir Sippai uit die geslag van die Refaïete verslaan. 19In 'n ander geveg teen die Filistyne in Gob het Elganan seun van Jaäre-Oregim van Betlehem vir Goliat die Gattiet doodgemaak. Sy spiessteel was so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel.
20Op 'n ander keer was daar oorlog in Gat. Daar was 'n lang man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet; saam was dit vier en twintig. Hy was ook 'n Refaïet van geboorte. 21Hy het die Israeliete getart en toe het Jonatan, seun van Dawid se broer Samma, hom doodgemaak.
22Hierdie vier was Refaïete wat in Gat gebore is. Dawid en sy manskappe het hulle laat sneuwel.