Die profeet spoor die Jode tot bekering aan.
1IN die agtste maand, in die tweede jaar van Daríus, het die woord van die Here gekom tot Sagaría, die seun van Berégja, die seun van Iddo, die profeet, en gesê:
2Die Here was baie vertoornd op julle vaders.
3So moet jy dan aan hulle sê: So spreek die Here van die leërskare: Keer terug na My, spreek die Here van die leërskare, en Ek sal na julle terugkeer, sê die Here van die leërskare.
4Moenie soos julle vaders wees nie, tot wie die vroeëre profete geroep en gesê het: So sê die Here van die leërskare: Bekeer julle tog van julle bose weë en julle bose werke; maar hulle het nie gehoor en na My nie geluister nie, spreek die Here.
5Julle vaders — waar is hulle? En sal die profete vir ewig lewe?
6Maar my woorde en my insettinge wat Ek my knegte, die profete, beveel het, het dit julle vaders nie ingehaal nie, sodat hulle tot inkeer gekom en gesê het: Soos die Here van die leërskare Hom voorgeneem het om aan ons te doen ooreenkomstig ons weë en ons werke, so het Hy met ons gedoen?
Eerste gesig: die perde.
7OP die vier-en-twintigste dag van die elfde maand, dit is die maand Sebat, in die tweede jaar van Daríus, het die woord van die Here tot die profeet Sagaría, die seun van Berégja, die seun van Iddo, gekom en gesê:
8Ek het in die nag 'n gesig gesien — daar was 'n man wat op 'n bruin perd ry, en hy het gestaan tussen die mirtebome wat in die diepte was; en agter hom was daar bruin, vos en wit perde.
9Toe sê ek: Wat beteken dit, my heer? En die engel wat met my gespreek het, antwoord my: Ek sal jou toon wat dit beteken.
10En die man wat tussen die mirtebome gestaan het, het aangehef en gesê: Dit is hulle wat die Here gestuur het om die aarde te deurkruis.
11Daarop het hulle die Engel van die Here, wat tussen die mirtebome gestaan het, toegespreek en gesê: Ons het die aarde deurkruis, en kyk, die ganse aarde is stil en rustig.
12Daarop het die Engel van die Here aangehef en gesê: Here van die leërskare, hoe lank nog bly U sonder ontferming oor Jerusalem en oor die stede van Juda waarop U alreeds sewentig jaar vertoornd was?
13Toe antwoord die Here die engel wat met my gespreek het, goeie woorde, troosvolle woorde.
14Daarop sê die engel wat met my gespreek het: Roep en sê: So spreek die Here van die leërskare: Ek ywer oor Jerusalem en oor Sion met 'n groot ywer;
15maar Ek is grootliks vertoornd oor die sorglose nasies wat, terwyl Ek 'n weinig vertoornd was, die onheil aangehelp het.
16Daarom, so sê die Here: Ek wend My met ontferming tot Jerusalem; my huis sal daarin gebou word, spreek die Here van die leërskare, en 'n meetsnoer oor Jerusalem gespan word.
17Roep verder en sê: So spreek die Here van die leërskare: My stede sal weer oorstroom wees van goeie dinge, en die Here sal Sion weer vertroos, en Hy sal Jerusalem weer verkies.
Tweede gesig: die horings en die smede.
18EN ek het my oë opgeslaan en gekyk — daar was vier horings.
19Toe sê ek aan die engel wat met my gespreek het: Wat beteken dit? En hy antwoord my: Dit is die horings wat Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het.
20Daarop toon die Here my vier smede.
21Toe sê ek: Wat kom hulle maak? En Hy antwoord en sê: Dit is die horings wat Juda só verstrooi het dat niemand sy hoof opgehef het nie; maar hierdie manne het gekom om hulle skrik aan te jaag, om die horings van die nasies neer te werp wat die horing teen die land van Juda opgesteek het om dit te verstrooi.