1AG, was u maar vir my soos 'n broer wat aan die borste van my moeder drink! As ek u daar buite vind, ek sou u kus; en tog sou hulle my nie verag nie.
2Ek sou u lei, ek sou u bring in die huis van my moeder; sy sou my leer; ek sou u laat drink van die gekruide wyn, van my granaatmos.
3Laat sy linkerarm onder my hoof wees en sy regterarm my omhels.
4Ek besweer julle, dogters van Jerusalem: Waarom wil julle wakker maak en waarom wil julle opwek die liefde voordat dit die liefde behaag?
5Wie is dit wat daar opkom uit die woestyn, wat leun op haar beminde? Onder die appelboom het ek u opgewek. Daar was u moeder in barensweë oor u, daar was sy in barensweë wat u voortgebring het.
6Dra my soos 'n seëlring op u hart, soos 'n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is 'n gloed van vuur, 'n vlam van die Here.
7Groot waters kan die liefde nie uitblus en riviere dit nie oorstroom nie; al gee 'n man ook al die goed van sy huis vir die liefde, hulle sou hom diep verag.
8Ons het 'n klein sustertjie wat nog nie borste het nie; wat moet ons met ons suster maak dié dag as sy gevra word?
9As sy 'n muur is, sal ons 'n silwerrand daarop bou, en as sy 'n deur is, sal ons dit met 'n sederplank toeslaan.
10Ek is 'n muur, en my borste soos torings: toe het ek in sy oë geword soos een wat vrede vind.
11Salomo het 'n wingerd in Baäl-Hamon gehad; hy het die wingerd aan die oppassers oorgegee; elkeen moes vir sy vrugte duisend sikkels silwer inbring.
12My wingerd, myne, is hier voor my, die duisend sikkels is vir u, Salomo, en tweehonderd vir die wat sy vrugte bewaak.
13U wat in die tuine woon — vriende luister na u stem; laat my dit hoor.
14Vlug, my beminde, en maak soos die gemsbok of die jong takbok op die balsemberge.