Droefheid van Paulus oor die ongeloof van Israel.
1EK spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie — my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees —
2dat dit vir my 'n groot droefheid is en 'n onophoudelike smart vir my hart.
3Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, 'n vervloeking te wees, wég van Christus af.
4Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes;
5aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees — Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.
Volstrekte vrymag van die genade van God.
6MAAR ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie.
7Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word.
8Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.
9Want dit is die woord van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal 'n seun hê.
10En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader.
11Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie — dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep —
12is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien.
13Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.
14Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie!
15Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.
16So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.
17Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.
18So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.
19Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan?
20Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?
21Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?
22En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het,
23juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid,
24ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene?
25Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde;
26en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! — daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God.
27En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word;
28want Hy volbring 'n saak en verkort dit in geregtigheid, omdat die Here 'n saak wat verkort is, op die aarde sal doen.
29En soos Jesaja tevore gesê het: As die Here van die leërskare vir ons nie 'n nageslag oorgelaat het nie, soos Sodom sou ons geword het en aan Gomorra gelyk gewees het.
30Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is;
31terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie.
32Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot.
33Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion 'n steen van aanstoot en 'n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.