Die vyfde basuin of die eerste wee.
1EN toe die vyfde engel blaas, sien ek 'n ster wat uit die hemel op die aarde geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee.
2En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en daar het rook opgekom uit die put soos rook van 'n groot oond, en die son en die lug is deur die rook van die put verduister.
3En uit die rook het daar sprinkane uitgekom op die aarde, en aan hulle is mag gegee soos die skerpioene van die aarde mag het.
4En aan hulle is gesê dat hulle nie die gras van die aarde of enige groenigheid of enige boom moet beskadig nie, maar net alleen die mense wat die seël van God nie op hulle voorhoofde het nie.
5En dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word; en hulle pyniging was soos die pyniging van 'n skerpioen wanneer hy 'n mens steek.
6En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.
7En die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense.
8En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos dié van leeus.
9En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog.
10En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen.
11En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion.
12Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë.
Die sesde basuin of die tweede wee.
13EN die sesde engel het geblaas, en ek het 'n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is,
14en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat.
15Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om 'n derde van die mense dood te maak.
16En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor.
17En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan.
18Deur hierdie drie plae is 'n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het;
19want hulle mag is in hulle bek en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan.
20En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.
21En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.