Die ware godsdiens.
1'n PSALM van Asaf.
Die God van die gode, die Here, spreek en roep die aarde, van die opgang van die son af tot sy ondergang toe.
2Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans.
3Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig.
4Hy roep na die hemel daarbo, en na die aarde, om sy volk te oordeel:
5Versamel my gunsgenote vir My, hulle wat my verbond by die offer sluit!
6En — die hemele verkondig sy geregtigheid, want God staan gereed om te oordeel! Sela.
7Hoor, my volk, dat Ek kan spreek; Israel, dat Ek jou dit kan inskerp: Ek is God, jou God!
8Oor jou offers bestraf Ek jou nie, en jou brandoffers is altyddeur voor My.
9Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie;
10want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende.
11Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My.
12As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid.
13Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink?
14Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste;
15en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.
16Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond —
17terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp?
18As jy 'n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers.
19Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog.
20Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy.
21Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel.
22Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie.
23Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet.