PSALM 48
Sion die stad van die groot Koning.
1'n LIED. 'n Psalm van die kinders van Korag.
2Die Here is groot en baie lofwaardig in die stad van onse God, sy heilige berg!
3Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, aan die noordekant, die stad van die groot Koning!
4God het Hom in sy paleise bekend gemaak as 'n rotsvesting.
5Want kyk, die konings het bymekaargekom, tesame opgetrek.
6Skaars het hulle dit gesien, of hulle het verstom, verskrik geword, in angs weggevlug.
7Bewing het hulle daar aangegryp, smart soos van een wat baar.
8Deur die oostewind verbreek U die skepe van Tarsis.
9Soos ons gehoor het, so het ons gesien in die stad van die Here van die leërskare, in die stad van onse God: God sal dit bevestig tot in ewigheid. Sela.
10o God, ons dink aan u goedertierenheid binne-in u tempel.
11Soos u Naam, o God, so is u roem tot die eindes van die aarde toe; u regterhand is vol geregtigheid.
12Laat die berg Sion bly wees, laat die dogters van Juda juig oor u oordele.
13Gaan rondom Sion, trek daaromheen, tel sy torings;
14let op sy skanse, wandel deur sy paleise, sodat julle dit aan die volgende geslag kan vertel,
15dat hierdie God onse God is, vir ewig en altyd; Hý sal ons lei tot die dood toe.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling met Deuterokanonieke Boeke
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953, 1965. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2015. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.