'n Gebed in krankheid.
1'n PSALM van Dawid, by die gedenkoffer.
2o Here, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie.
3Want u pyle het in my ingedring, en u hand het op my neergedaal.
4Daar is geen heel plek in my vlees vanweë u grimmigheid nie; daar is niks gesond in my gebeente vanweë my sonde nie.
5Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos 'n swaar pak het hulle vir my te swaar geword.
6My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid.
7Ek is krom, heeltemal geboë; die hele dag gaan ek in die rou;
8want my lendene is vol ontsteking, en daar is geen heel plek in my vlees nie.
9Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel; ek brul van die gebons van my hart.
10Here, voor U is al my begeertes, en my gesug is vir U nie verborge nie.
11My hart slaan vinnig, my krag het my verlaat; en die lig van my oë, ook dit is nie by my nie.
12Die wat my liefhet en my vriende is, staan opsy vir my kwaal, en my nabestaandes het ver gaan staan;
13en die wat my lewe soek, span strikke; en die wat my ongeluk soek, spreek van ondergang, en hulle bedink die hele dag bedrog.
14Maar ek is soos 'n dowe: ek hoor nie, en soos 'n stomme wat sy mond nie oopmaak nie.
15Ja, ek is soos 'n man wat nie hoor nie en in wie se mond geen teëspraak is nie;
16want op U, Here, wag ek; Ú sal verhoor, Here my God!
17Want ek het gesê: Laat hulle net nie bly wees oor my nie! Hulle wat by die wankeling van my voet hul groot maak teen my!
18Want ek is klaar om te val, en my smart is altyddeur voor my.
19Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.
20Maar my vyande lewe, hulle is magtig; en die wat my valslik haat, is groot in aantal.
21En die wat kwaad vir goed vergeld, behandel my vyandig, omdat ek die goeie najaag.
22Verlaat my nie, o Here! My God, wees nie ver van my af nie!
23Maak tog gou om my te help, Here, my heil!