Dawid bid God om die goddelose mense te straf.
1
'n PSALM van Dawid.
Here, twis met die wat met my twis; bestry die wat my bestry!
2Gryp die klein skild en die grote, en staan op as my hulp!
3En trek die spies uit en stuit my vervolgers! Spreek tot my siel: Ek is jou heil!
4Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en in die skande kom; laat hulle wat my ongeluk beraam, agteruitwyk en rooi van skaamte word!
5Laat hulle word soos kaf voor die wind, terwyl die Engel van die Here hulle wegstoot.
6Laat hulle weg duister en glibberig wees, terwyl die Engel van die Here hulle vervolg!
7Want hulle het sonder oorsaak die kuil met hul net vir my verberg, hulle het sonder oorsaak gegrawe teen my lewe.
8Laat verwoesting oor hom kom sonder dat hy dit weet, en laat sy net hom vang wat hy gespan het; laat hom daarin val met verwoesting!
9Maar my siel sal juig in die Here, dit sal bly wees in sy heil.
10Al my beendere sal sê: Here, wie is soos U? U wat die ellendige red van die wat sterker is as hy; ja, die ellendige en behoeftige van sy berower!
11Kwaadwillige getuies staan op; wat ek nie weet nie, vra hulle vir my.
12Hulle vergeld my kwaad vir goed: verlatenheid vir my siel.
13En ek — toe hulle siek was, het ek 'n roukleed gedra; ek het my siel gekwel met vas, en my gebed het teruggekeer in my boesem.
14Ek het rondgegaan asof dit 'n vriend, asof dit 'n broer van my was; ek het gebuk gegaan in die rou soos een wat oor sy moeder treur.
15Maar as ek struikel, is hulle bly en kom bymekaar; hulle vergader teen my, lae mense en die wat ek nie ken nie; hulle laster sonder ophou.
16Onder die roekeloosste tafelspotters kners hulle met hul tande teen my.
17Here, hoe lank sal U dit aansien? Bring my siel terug van hulle verwoestinge, my enigste van die jong leeus af.
18Ek sal U loof in 'n groot vergadering; onder 'n groot skare sal ek U prys.
19Laat hulle oor my nie bly wees wat sonder grond my vyande is nie; laat die wat my sonder oorsaak haat, nie met die oë knip nie!
20Want hulle spreek nie van vrede nie, maar hulle bedink bedrieglike woorde teen die stilles in die land.
21En hulle maak hul mond wyd oop teen my, hulle sê: Ha, ha, ons oog het dit gesien!
22Here, U het dit gesien, swyg nie. Here, wees nie ver van my af nie!
23Ontwaak en word wakker vir my reg; my God en Here, vir my regsaak.
24Doen aan my reg na u geregtigheid, Here my God, en laat hulle oor my nie bly wees nie!
25Laat hulle in hul hart nie sê: Ha, ons begeerte! Laat hulle nie sê: Ons het hom verslind nie!
26Laat hulle wat bly is oor my ongeluk, beskaamd staan en saam rooi van skaamte word; laat hulle wat hul teen my groot maak, met skaamte en skande beklee word!
27Laat húlle jubel en bly wees wat 'n behae het in my geregtigheid; en laat hulle altyddeur sê: Groot is die Here wat 'n welbehae het in die vrede van sy kneg!
28En my tong sal u geregtigheid prys, u lof die hele dag deur.