Danklied van 'n verloste.
1EK het lief, want die Here hoor my stem, my smekinge,
2want Hy het sy oor tot my geneig; daarom sal ek Hom in my dae aanroep.
3Bande van die dood het my omring, en angste van die doderyk het my getref; ek het benoudheid en kommer gevind.
4Maar ek het die Naam van die Here aangeroep: Ag, Here, red my siel.
5Die Here is genadig en regverdig, en onse God is 'n ontfermer.
6Die Here bewaar die eenvoudiges; ek het swak geword, maar Hy het my gehelp.
7My siel, keer terug tot jou rus; want die Here het goed aan jou gedoen.
8Want U het my siel gered van die dood, my oog van trane, my voet van struikeling.
9Ek sal wandel voor die aangesig van die Here in die lande van die lewendes.
10Ek het geglo toe ek gespreek het: Ék is diep neergebuig.
11Ék het in my angs gesê: Alle mense is leuenaars.
12Wat sal ek die Here vergeld vir al sy weldade aan my?
13Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van die Here aanroep.
14My geloftes sal ek aan die Here betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk.
15Kosbaar is in die oë van die Here die dood van sy gunsgenote.
16Ag, Here, sekerlik, ek is u kneg, ek is u kneg, die seun van u diensmaagd; U het my bande losgemaak.
17Ek sal U 'n offer van danksegging bring en die Naam van die Here aanroep.
18Ek sal my geloftes aan die Here betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk,
19in die voorhowe van die huis van die Here, binne-in jou, o Jerusalem! Halleluja!