Woorde van vervloeking en verlossing.
1VIR die musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm.
o God van my lof, moenie swyg nie!
2Want hulle het die mond van die goddelose en die mond van bedrog teen my oopgemaak; hulle het met my gespreek met 'n leuenagtige tong,
3en my met woorde van haat omring; ja, hulle het my sonder oorsaak beveg.
4Vir my liefde behandel hulle my vyandig, terwyl ek tog gedurig bid.
5En hulle het my kwaad vir goed opgelê en haat vir my liefde.
6Stel 'n goddelose oor hom en laat 'n teëstander staan aan sy regterhand.
7As hy geoordeel word, laat hom as skuldige uitgaan, en laat sy gebed sonde word.
8Laat sy dae min wees; laat 'n ander sy amp neem.
9Laat sy kinders wese word en sy vrou 'n weduwee;
10en laat sy kinders oral rondswerwe en bedel en brood soek, weg van hulle puinhope af.
11Laat die skuldeiser alles neem wat hy het, en laat vreemdes sy goed buitmaak.
12Laat hom niemand hê wie se guns bestendig is, en laat niemand hom oor sy wese ontferm nie.
13Laat sy nakomelinge uitgeroei word; laat hulle naam uitgedelg word in die volgende geslag.
14Laat die Here gedagtig wees aan die ongeregtigheid van sy vaders, en laat die sonde van sy moeder nie uitgedelg word nie.
15Laat dié altyddeur voor die Here wees, dat Hy hulle gedagtenis van die aarde af kan uitroei;
16omdat hy nie daaraan gedink het om guns te bewys nie, maar die ellendige en behoeftige man vervolg het en die moedelose van hart, om hom dood te maak.
17Ja, hy het die vloek liefgehad en — dit het oor hom gekom; en hy het geen welbehae gehad in die seën nie en — dit het ver van hom af gebly.
18Hy het die vloek aangetrek soos 'n kleed en — dit het soos water in sy binneste gekom en soos olie in sy gebeente.
19Laat dit vir hom wees soos 'n kleed waarin hy hom toedraai, en 'n gordel wat hy altyddeur ombind.
20Laat dit die loon van my teëstanders wees vanweë die Here, en van hulle wat kwaad spreek teen my.
21Maar U, o Here Here, maak dit goed met my om u Naam ontwil; omdat u goedertierenheid goed is, red my.
22Want ek is ellendig en behoeftig, en my hart is deurwond in my binneste.
23Ek gaan heen soos 'n skaduwee as dit lank word; ek is afgeskud soos 'n sprinkaan.
24My knieë knik van vas, en my vlees het maer geword, sonder vet.
25En ék het vir hulle 'n smaad geword; as hulle my sien, skud hulle hul hoof.
26Help my, Here my God! Verlos my na u goedertierenheid,
27sodat hulle kan weet dat dit u hand is: U, o Here, het dit gedoen.
28Laat húlle vloek, maar U, seën U. Hulle het opgestaan en beskaamd geword, maar u kneg is bly.
29Laat my teëstanders beklee word met smaad en hulle toedraai in hul skande soos in 'n mantel.
30Ek sal die Here hardop loof met my mond, en onder baie sal ek Hom prys;
31want Hy staan aan die regterhand van die behoeftige om hom te verlos van die wat hom veroordeel.