Die uitnemendheid van die Wysheid.
1ROEP die Wysheid nie, en verhef die Verstandigheid nie haar stem nie?
2Op die top van die hoogtes langs die weg, op die kruispunt van die paaie staan sy,
3aan die kant van die poorte by die uitgang van die stad, by die ingang van die deure roep sy hardop:
4Ek roep na julle, manne, en my stem is tot die mensekinders.
5Leer tog skranderheid verstaan, eenvoudiges, en dwase, leer verstandigheid verstaan.
6Hoor, want ek sal voortreflike dinge spreek, en my lippe gaan oop vir wat reg is.
7Want my verhemelte spreek waarheid, en goddeloosheid is vir my lippe 'n gruwel.
8Al die woorde van my mond is reg, daarin is niks wat slinks of vals is nie,
9hulle is almal duidelik vir die verstandige en reg vir die wat kennis gevind het.
10Neem my tug aan, en nie silwer nie, en kennis liewer as uitgesoekte goud.
11Want wysheid is beter as korale, en al die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.
12Ek, Wysheid, is vertroud met die skranderheid, en ek vind kennis van regte oorleg.
13Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.
14Raad en beleid is myne, ek is die insig, sterkte is myne.
15Deur my regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is;
16deur my heers die vorste en die edeles, al die regters van die aarde.
17Ék het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind.
18Rykdom en eer is by my, duursame goed en geregtigheid.
19My vrug is beter as goud en as fyn goud, en my opbrings as uitgesoekte silwer.
20Ek wandel op die weg van geregtigheid, in die middel van die paaie van reg,
21om die wat my liefhet, 'n besitting te laat erwe, en hulle skatkamers maak ek vol.
Die Wysheid bestaan van ewigheid af.
22DIE Here het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af.
23Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af.
24Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore; toe fonteine, swaar van water, nog nie daar was nie;
25voordat die berge ingesink het, voor die heuwels is ek gebore;
26toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie.
27Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy 'n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed;
28toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het;
29toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het —
30toe was ek 'n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd,
31en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders.
32Luister dan nou na my, seuns; want gelukkig is hulle wat my weë bewaar.
33Luister na tug en word wys, en verwerp dit nie.
34Gelukkig is die mens wat na my luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte die wag te hou.
35Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry 'n welbehae van die Here.
36Maar hy wat my mis, benadeel sy eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief.