1SIT jy aan om saam met 'n heerser te eet, let dan net op wat vóór jou is,
2en sit 'n mes op jou keel as jy 'n goeie eetlus het.
3Moenie sy lekker ete begeer nie, want dit is bedrieglike spys.
4Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid.
5Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!
6Eet nie die brood van een wat afgunstig is nie, en begeer nie sy lekker ete nie.
7Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie.
8Jou stukkie wat jy geëet het, sal jy uitspuug; en dan het jy jou vriendelike woorde verspil.
9Spreek nie voor die ore van 'n dwaas nie, want hy sal die verstandigheid van jou woorde verag.
10Verlê die ou grenslyne nie, en kom nie op die landerye van die wese nie.
11Want hulle Verlosser is sterk, Hy sal hulle saak teen jou verdedig.
12Bring jou hart na die tug en jou oor na woorde van kennis.
13Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.
14Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.
15My seun, as jou hart wys word, dan sal my hart hom ook verheug.
16En my niere sal jubel as jou lippe spreek wat reg is.
17Laat jou hart die sondaars nie beny nie, maar wees die hele dag in die vrees van die Here.
18Waarlik, daar is 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.
19Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg.
20Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal.
21Want 'n drinker en 'n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.
22Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie.
23Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand.
24Die vader van 'n regverdige juig baie; en as iemand 'n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom.
25Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het.
26My seun, gee my jou hart, en laat jou oë 'n welgevalle hê in my weë.
27Want 'n hoer is 'n diep kuil, en 'n ontugtige vrou is 'n nou put.
28Sy lê ook en loer soos 'n rower en vermeerder die ontroues onder die mensdom.
29By wie is „Ag!”; by wie is „Wee my!”; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë?
30By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe.
31Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie:
32op die end byt dit soos 'n slang en spuug gif uit soos 'n basilisk.
33Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek;
34en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê.
35Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie!
36Wanneer sal ek wakker word? Dan sal ek dit weer opnuut soek.