1TOE sê Bíleam vir Balak: Bou vir my hier sewe altare en berei vir my hier sewe bulle en sewe ramme.
2En Balak het gedoen soos Bíleam verlang het; en Balak en Bíleam het 'n bul en 'n ram op elke altaar geoffer.
3Daarop sê Bíleam vir Balak: Bly by jou brandoffer staan, en ek sal heengaan; miskien sal die Here my tegemoetkom, en wat Hy my ook al laat sien, sal ek jou bekend maak. En hy het na 'n kaal heuwel gegaan.
4En God het Bíleam tegemoetgekom, en hy het vir Hom gesê: Sewe altare het ek reggemaak en 'n bul en 'n ram op elke altaar geoffer.
5Toe lê die Here 'n woord in Bíleam se mond en sê: Gaan terug na Balak, en so moet jy spreek.
6En hy het na hom teruggegaan terwyl hy daar staan by sy brandoffer, hy en al die vorste van Moab.
7En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Uit Aram laat Balak my haal, die koning van Moab — uit die berge van die Ooste: Kom vervloek Jakob vir my, en kom, verwens Israel.
8Hoe sal ek vloek wie Gód nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie die Here nie verwens nie?
9Want van die top van die rotse af sien ek hom, en van die heuwels af aanskou ek hom. Kyk, 'n volk wat afgesonderd woon en hom nie tot die nasies reken nie.
10Wie het die stof van Jakob getel? En wie, volgens getal, die vierde deel van Israel? Laat my sterwe die dood van die opregtes, en laat my einde soos syne wees!
11Toe sê Balak vir Bíleam: Wat het jy my aangedoen? Ek het jou laat haal om my vyande te vloek, en kyk, jy het net geseën!
12En hy antwoord daarop dít: Moet ek dan nie sorgvuldig alles spreek wat die Here in my mond lê nie?
13Daarop sê Balak vir hom: Kom tog saam met my na 'n ander plek vanwaar jy hom kan sien — net sy kant sal jy sien, maar heeltemal kan jy hom nie sien nie — en vervloek hom daarvandaan vir my.
14En hy het hom saamgeneem na die Veld van die Wagte, op die top van Pisga, en sewe altare gebou en 'n bul en 'n ram op elke altaar geoffer.
15Toe sê hy vir Balak: Bly hier staan by jou brandoffer, en ek sal daar op 'n ontmoeting wag.
16En die Here het Bíleam ontmoet en 'n woord in sy mond gelê en gesê: Gaan terug na Balak, en so moet jy spreek.
17En hy het by hom gekom terwyl hy daar staan by sy brandoffer, en die vorste van Moab by hom. En Balak sê vir hom: Wat het die Here gespreek?
18Toe hef hy sy spreuk aan en sê: Staan op, Balak, en hoor! Luister na my, seun van Sippor!
19God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?
20Kyk, ek het ontvang om te seën; en het Hy geseën, dan kan ek dit nie keer nie.
21'n Mens aanskou geen ongeregtigheid in Jakob en sien geen onheil in Israel nie. Die Here sy God is met hom, en die gejubel tot eer van die Koning is by hom.
22God wat hulle uit Egipte uitgelei het, is vir hulle soos die horings van 'n buffel.
23Want daar is geen towery teen Jakob of waarsêery teen Israel nie. Nou sal van Jakob en van Israel gesê word wat God gedoen het.
24Kyk, 'n volk wat opstaan soos 'n leeuin, en soos 'n leeu verhef hy hom. Hy gaan nie lê voordat hy roof eet en die bloed van die wat verslaan is, drink nie.
25Toe sê Balak vir Bíleam: Jy moet hulle glad nie vloek nie, en jy moet hulle glad nie seën nie.
26Maar Bíleam antwoord en sê vir Balak: Het ek nie dit met jou gespreek nie: Alles wat die Here spreek, dit sal ek doen?
27Verder sê Balak vir Bíleam: Kom tog, ek sal jou na 'n ander plek saamneem; miskien sal dit reg wees in die oë van God dat jy hulle vir my daarvandaan vervloek.
28Toe neem Balak Bíleam saam na die top van Peor wat oor die wildernis afkyk.
29Daarop sê Bíleam vir Balak: Bou vir my hier sewe altare, en berei vir my hier sewe bulle en sewe ramme.
30En Balak het gedoen soos Bíleam verlang het en 'n bul en 'n ram op elke altaar geoffer.