Wette met betrekking tot die offerandes.
1DAARNA het die Here met Moses gespreek en gesê:
2Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land van julle inwoning kom wat Ek aan julle gee,
3en julle 'n vuuroffer aan die Here wil berei, 'n brandoffer of slagoffer — deur 'n besondere gelofte te volbring of as vrywillige offer of by julle feestye — om vir die Here 'n lieflike geur van beeste of van kleinvee te berei,
4dan moet die een wat sy offer aan die Here bring, as spysoffer bring 'n tiende van 'n efa fynmeel, gemeng met 'n kwart-hin olie;
5en wyn vir die drankoffer, 'n kwart-hin, moet jy berei by die brandoffer of vir die slagoffer, vir elke lam.
6Of vir 'n ram moet jy as spysoffer berei twee-tiendes van 'n efa fynmeel, met 'n derde van 'n hin olie gemeng.
7En 'n derde van 'n hin wyn vir die drankoffer moet jy as lieflike geur aan die Here bring.
8En as jy 'n jong bul as brandoffer of slagoffer berei, deur 'n besondere gelofte te volbring of as dankoffer aan die Here,
9moet hy by die jong bul as spysoffer bring drie-tiendes van 'n efa fynmeel met 'n half-hin olie gemeng.
10En vir die drankoffer moet jy 'n half-hin wyn bring, as vuuroffer van lieflike geur aan die Here.
11So moet gedoen word by elke bees of by elke ram of by 'n lam van die skape of van die bokke.
12Volgens die getal wat julle berei — so moet julle doen by elkeen volgens hulle getal.
13Elke kind van die land moet hierdie dinge op dieselfde manier doen, om 'n vuuroffer van lieflike geur aan die Here te bring.
14En as 'n vreemdeling by julle vertoef, of hy wat vir geslagte onder julle is, en 'n vuuroffer van lieflike geur vir die Here berei — soos julle doen, so moet hy doen.
15Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. 'n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die Here wees.
16Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef.
17Verder het die Here met Moses gespreek en gesê:
18Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land kom waarheen Ek julle bring,
19moet julle, as julle van die brood van die land eet, 'n offergawe aan die Here afgee.
20As eersteling van julle growwe meel moet julle 'n koek as offergawe afgee; net soos die offergawe van die dorsvloer, so moet julle dit afgee.
21Van die eerstelinge van julle growwe meel moet julle 'n offergawe aan die Here gee in julle geslagte.
22Verder, as julle jul misgaan en nie al hierdie gebooie doen wat die Here aan Moses meegedeel het nie —
23alles wat die Here julle deur Moses beveel het van die dag af dat die Here dit beveel het en verder in julle geslagte —
24dan moet die hele vergadering, as dit buiten wete van die vergadering, in swakheid gebeur het, een jong bul berei vir 'n brandoffer as lieflike geur aan die Here, met die spysoffer en die drankoffer wat volgens voorskrif daarby behoort; en een bokram as sondoffer.
25En die priester moet versoening doen vir die hele vergadering van die kinders van Israel, en dit sal hulle vergewe word; want 'n swakheid was dit, en húlle het hul offer as vuuroffer aan die Here en hul sondoffer, weens hulle swakheid, voor die aangesig van die Here gebring.
26Dit sal dan die hele vergadering van die kinders van Israel vergewe word, ook die vreemdeling wat onder hulle vertoef; want dit het die hele volk deur swakheid oorgekom.
27En as 'n enkele siel in swakheid sondig, moet dié 'n jaaroud bokooi as sondoffer bring.
28En die priester moet versoening doen vir die siel wat hom misgaan het, weens sy sonde in swakheid voor die aangesig van die Here begaan, om vir hom versoening te doen; en dit sal hom vergewe word.
29Wat die kind van die land onder die kinders van Israel aangaan en die vreemdeling wat onder hulle vertoef — een en dieselfde wet moet vir julle geld, vir hom wat in swakheid iets doen.
30Maar die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die Here; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit.
31Want die woord van die Here het hy verag en sy gebod verbreek. Dié siel moet sekerlik uitgeroei word; sy ongeregtigheid is op hom.
Straf van 'n sabbatskender.
32EN toe die kinders van Israel in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die sabbatdag hout bymekaarmaak.
33En die wat hom gekry het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses en Aäron en na die hele vergadering gebring.
34En hulle het hom in die gevangenis gesit, want dit was nie beslis wat met hom gedoen moes word nie.
35Toe sê die Here vir Moses: Die man moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom buitekant die laer stenig.
36Toe het die hele vergadering hom buitekant die laer uitgebring en hom gestenig, dat hy gesterf het, soos die Here Moses beveel het.
Bevel om 'n teken aan die klere te maak.
37EN die Here het met Moses gespreek en gesê:
38Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle, hulle moet vir hulle klossies maak aan die hoeke van hul klere, in hulle geslagte, en aan die hoekklossies 'n draad van pers stof vasbind.
39En dit sal julle as klossies dien: as julle dit sien, moet julle aan al die gebooie van die Here dink, dat julle dit doen en nie jul hart en jul oë navolg waar julle agter aan hoereer nie,
40sodat julle aan al my gebooie mag dink en dit doen, en aan julle God heilig mag wees.
41Ek is die Here julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het om vir julle 'n God te wees. Ek is die Here julle God.