Omdat hulle na Egipte wil teruggaan, moet die Israeliete veertig jaar in die woestyn bly.
1TOE het die hele vergadering uitgeroep — hulle het hul stem verhef, en die volk het dié nag geween.
2En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en teen Aäron, en die hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het!
3En waarom bring die Here ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal 'n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie?
4En hulle sê vir mekaar: Laat ons 'n hoof aanstel en na Egipte teruggaan.
5Toe het Moses en Aäron op hulle aangesig geval voor die hele vergadering van die gemeente van die kinders van Israel.
6En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur
7en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is 'n buitengewoon goeie land.
8As die Here 'n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning.
9Wees net nie teen die Here opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die Here is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!
10Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word. Maar die heerlikheid van die Here het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel.
11Daarop het die Here aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?
12Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou 'n groter en sterker nasie maak as hulle.
13Toe het Moses aan die Here gesê: Maar die Egiptenaars het gehoor dat U deur u krag hierdie volk onder hulle uit laat optrek het
14en dit aan die inwoners van hierdie land gesê. Hulle het gehoor dat U, Here, in die midde van hierdie volk is; dat U, Here, duidelik waarneembaar verskyn; dat u wolk oor hulle staan en U in 'n wolkkolom voor hulle uit trek bedags en in 'n vuurkolom by nag.
15As U nou hierdie volk soos een man ombring, dan sal die nasies wat die tyding aangaande U gehoor het, spreek en sê:
16Omdat die Here hierdie volk nie kon inbring in die land wat Hy hulle met 'n eed beloof het nie, het Hy hulle in die woestyn omgebring.
17Laat dan nou tog die krag van die Here groot word, soos U gespreek het deur te sê:
18Die Here is lankmoedig en groot van goedertierenheid, wat die ongeregtigheid en oortreding vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie, wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag.
19Vergeef tog die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van u goedertierenheid, en soos U hierdie volk van Egipte af tot hiertoe vergewe het.
20Toe sê die Here: Ek vergewe, volgens jou woord.
21Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die Here se heerlikheid vol sal word,
22al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien maal versoek het en na my stem nie geluister het nie,
23hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met 'n eed beloof het nie, ja, almal wat My verag het, sal dit nie sien nie.
24Maar my kneg Kaleb, omdat 'n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg — hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.
25Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die laagte — draai môre weg en trek tog die woestyn in, op pad na die Skelfsee.
26Daarna het die Here met Moses en Aäron gespreek en gesê:
27Hoe lank sal hierdie bose vergadering aanhou dat hulle teen My murmureer? Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor waarmee hulle teen My bly murmureer.
28Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here, waarlik, soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen.
29Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes, volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het.
30Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun van Nun.
31En julle kinders waarvan julle gesê het: Hulle sal 'n buit word — dié sal Ek inbring en dié sal die land leer ken wat julle verwerp het.
32Maar júlle lyke sal in hierdie woestyn lê.
33En julle kinders sal soos herders rondtrek in die woestyn, veertig jaar lank, en sal so die gevolge van julle hoerery dra totdat julle lyke in die woestyn verteer is.
34Volgens die getal dae dat julle die land verken het, veertig dae, vir elke dag een jaar, moet julle jul ongeregtighede dra, veertig jaar lank, en my teëstand gewaar word.
35Ek, die Here, het dit gespreek; waarlik, dit sal Ek aan hierdie hele bose vergadering doen wat teen My bymekaargekom het. Hulle sal in hierdie woestyn omkom en daar sterwe.
36En die manne wat Moses gestuur het om die land te verken en wat ná hulle terugkoms die hele vergadering teen hom laat murmureer het deur 'n slegte gerug aangaande die land te versprei,
37die manne wat 'n slegte gerug aangaande die land versprei het, het gesterwe deur 'n plaag voor die aangesig van die Here.
38Maar van dié manne wat die land gaan verken het, het Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, in die lewe gebly.
39En toe Moses hierdie woorde aan al die kinders van Israel gesê het, het die volk baie getreur
40en die môre vroeg klaargemaak en op die top van die berg geklim en gesê: Hier is ons, en ons wil optrek na die plek wat die Here gesê het, want ons het gesondig.
41Maar Moses het gesê: Waarom oortree julle tog die bevel van die Here, aangesien dit tog nie sal geluk nie?
42Moenie optrek nie, want die Here is nie in julle midde nie — anders word julle verslaan voor julle vyande.
43Want die Amalekiete en die Kanaäniete is daar voor julle, en julle sal deur die swaard val; omdat julle van die Here afvallig geword het, daarom sal die Here nie met julle wees nie.
44Nogtans het hulle vermetel gehandel om op die top van die berg te klim; maar die verbondsark van die Here en Moses het nie uit die laer gewyk nie.
45Toe het die Amalekiete en die Kanaäniete wat in dié gebergte woonagtig was, afgekom en hulle verslaan en hulle verstrooi tot by Horma.