Die sondes van Ninevé en sy verwoesting.
1WEE die bloedstad wat louter bedrog, vol geweld is, terwyl rowery nie ophou nie!
2Hoor, die sweep! En hoor, die gedreun van wiele! En perde wat jaag, en waens wat stamp!
3Ruiters op 'n galop en geglinster van swaarde en geblits van spiese! En 'n menigte wat verslaan is, en hope dooies en geen einde aan die lyke nie — 'n mens struikel oor hulle lyke!
4Weens die veelheid van die hoererye van die hoer vol bevalligheid, 'n meesteres in towerkunste, wat nasies met haar hoererye verkoop het en volkstamme met haar towerkunste.
5Kyk, Ek het dit teen jou, spreek die Here van die leërskare, en Ek sal jou slippe optel oor jou aangesig en nasies jou naaktheid laat sien en koninkryke jou skande.
6En Ek sal vuilgoed op jou gooi en jou aan minagting prysgee en van jou 'n skouspel maak,
7sodat elkeen wat jou sien, van jou af sal wegvlug en sê: Verwoes is Ninevé! Wie sal met haar medelyde hê? Waar sal ek troosters vir jou gaan soek?
8Is jy beter as No-Amon wat gelê het aan die Nylstrome, met waters rondom hom; wie se voorskans die groot water was, waters sy muur?
9Kus was sy krag en Egiptenaars sonder getal, Putéërs en Líbiërs was jou tot hulp.
10Nogtans het dit as gevangene in ballingskap gegaan; nogtans is sy kinders by al die straathoeke verpletter, en oor sy edeles is die lot gewerp, en al sy groot manne is met kettings geboei.
11Ook jý sal dronk word, beneweld wees, ook jý sal 'n toevlug soek teen die vyand.
12Al jou vestings is vyebome met voorvye: as 'n mens skud, val hulle in die mond van die eter.
13Kyk, jou volk binne-in jou is soos vroue, die poorte van jou land is wyd oopgemaak vir jou vyande, die vuur het jou grendels verteer.
14Skep vir jou water vir die beleëring, versterk jou vestings, gaan in die modder en trap klei, gryp die steenvorm.
15Daar sal die vuur jou verteer, die swaard jou uitroei, jou verslind net soos voetgangersprinkane. Al vermenigvuldig jy soos voetgangers, al vermenigvuldig jy soos treksprinkane;
16al het jy jou koopmans meer gemaak as die sterre aan die hemel — die voetgangers vervel en vlieg weg!
17Jou wagters is soos treksprinkane, en jou amptenare is soos swerms sprinkane wat op 'n koue dag op die heining sit — die son breek deur, en hulle vlieg weg, en niemand weet waar hulle beland het nie.
18Jou herders sluimer, o koning van Assur, jou edeles lê daar, jou volk is op die berge verstrooi, en niemand versamel hulle nie.
19Daar is geen herstel vir jou verbreking nie; jou wond is ongeneeslik; almal wat die tyding omtrent jou verneem, slaan hulle hande saam oor jou; want oor wie het jou boosheid nie voortdurend heengegaan nie?