Die man met die verdorde hand.
1EN Hy het weer in die sinagoge gegaan, en dáár was 'n man met 'n verdorde hand.
2En hulle het Hom in die oog gehou, of Hy hom op die sabbat gesond sou maak, sodat hulle Hom kon aanklae.
3En Hy sê vir die man met die verdorde hand: Staan op in hul midde.
4Daarop sê Hy vir hulle: Is dit geoorloof om op die sabbat goed of kwaad te doen, 'n lewe te red of dood te maak? Maar hulle het stilgebly.
5En nadat Hy hulle rondom met toorn aangekyk het en tegelykertyd bedroef was oor die hardheid van hulle hart, sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en sy hand is herstel, gesond soos die ander een.
6Toe gaan die Fariseërs uit en hou dadelik raad met die Herodiane teen Hom, sodat hulle Hom sou kan ombring.
7En Jesus het met sy dissipels teruggegaan na die see toe, en 'n groot menigte het Hom gevolg uit Galiléa en Judéa
8en Jerusalem en Iduméa en van oorkant die Jordaan af. En die wat om Tirus en Sidon gewoon het, 'n groot menigte, het na Hom gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen.
9En Hy het aan sy dissipels gesê dat 'n skuitjie altyd vir Hom moes klaar lê vanweë die skare, sodat hulle Hom nie miskien sou verdring nie.
10Want Hy het baie gesond gemaak, sodat almal wat vol kwale was, op Hom toegeloop het om Hom aan te raak.
11En elke keer as die onreine geeste Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskreeu en gesê: U is die Seun van God!
12En Hy het hulle herhaaldelik streng gebied om Hom nie bekend te maak nie.
Roeping van die twaalf apostels.
13EN Hy het op die berg geklim en na Hom geroep die wat Hy wou hê, en hulle het na Hom gekom.
14En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek
15en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf.
16En aan Simon het Hy die bynaam Petrus gegee;
17en verder Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, die broer van Jakobus — aan hulle het Hy die bynaam Boanérges gegee, dit is, seuns van die donder —
18en Andréas en Filippus, en Bartholoméüs en Matthéüs, en Thomas en Jakobus, die seun van Alféüs, en Thaddéüs en Simon Kananítes,
19en Judas Iskáriot, hy wat Hom verraai het.
Godslastering van die skrifgeleerdes.
20EN hulle het in 'n huis gegaan, en 'n skare het weer saamgekom, sodat hulle selfs nie brood kon eet nie.
21Toe sy mense dit hoor, gaan hulle uit om Hom in die hande te kry; want hulle het gesê: Hy is buite sy sinne.
22En die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: Hy het Beëlsebul! en: Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit.
23En Hy het hulle na Hom geroep en vir hulle deur gelykenisse gesê: Hoe kan die Satan die Satan uitdryf?
24En as 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie;
25en as 'n huis teen homself verdeeld is, kan daardie huis nie bly staan nie;
26en as die Satan teen homself opstaan en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar hy kom tot 'n einde.
27Niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed roof as hy nie eers die sterk man boei nie; en dan sal hy sy huis berowe.
28Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het;
29maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel —
30omdat hulle gesê het: Hy het 'n onreine gees.
Die familie van Jesus.
31SY broers en sy moeder het toe gekom, en terwyl hulle buite staan, stuur hulle na Hom om Hom te roep.
32En 'n skare het rondom Hom gesit Hulle sê toe vir Hom: U moeder en u broers soek U daarbuite.
33En Hy antwoord hulle en sê: Wie is my moeder of my broers?
34En Hy kyk rond na die wat rondom Hom sit, en sê: Dáár is my moeder en my broers!
35Want elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder.