MIGA 3
Oordeel oor die leiers van die volk en die valse profete.
1VERDER het ek gesê: Hoor tog, o hoofde van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Betaam dit julle nie om die reg te ken nie?
2Haters van wat goed is, en liefhebbers van wat sleg is, wat die vel van die mense aftrek en hulle vlees van hul gebeente;
3en wat die vlees van my volk eet en hulle vel van hulle afslag; ook hulle gebeente verbrysel en hulle aan stukke kap soos vleis in 'n pot en soos vleis in 'n pan.
4Dan sal hulle die Here aanroep, en Hy sal hulle nie antwoord nie; maar Hy sal sy aangesig in dié tyd vir hulle verberg, omdat hulle verkeerde dinge gedoen het.
5So sê die Here aangaande die profete wat my volk verlei, wat as hulle maar iets het om met hulle tande te byt, vrede verkondig; maar teen hom wat niks in hulle mond steek nie, verklaar hulle 'n heilige oorlog!
6Daarom sal dit nag word vir julle, sonder 'n gesig, en duister vir julle, sonder waarsêery; ja, die son sal oor die profete ondergaan, en die dag oor hulle verduister word.
7En die sieners sal beskaamd staan, en die waarsêers sal bloos, en hulle almal sal die baard bedek, omdat daar geen antwoord van God kom nie.
8Ek daarenteen is vol krag, mét die Gees van die Here, en reg en heldemoed, om aan Jakob sy oortreding te verkondig en aan Israel sy sonde.
9Hoor tog dit, hoofde van die huis van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Julle wat van die reg 'n afsku het en al wat reg is, verdraai;
10julle wat Sion bou met bloed en Jerusalem met onreg!
11Sy hoofde spreek vonnisse uit vir 'n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op die Here en sê: Is die Here nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie!
12Daarom sal Sion om julle ontwil soos 'n land omgeploeg en Jerusalem puinhope word en die tempelberg bosrante.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling met Deuterokanonieke Boeke
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953, 1965. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2015. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.