Voorrede.
1AANGESIEN baie onderneem het om 'n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons al vervul is,
2soos hulle wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, dit aan ons oorgelewer het,
3het ek ook dit goedgedink, hooggeagte Theófilus, nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek het, om dit in volgorde aan u te skrywe,
4sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is.
Geboorte van Johannes aangekondig.
5DAAR was in die dae van Herodes, koning van Judéa, 'n sekere priester met die naam van Sagaría, uit die afdeling van Abía; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet.
6En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel.
7En hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei op ver gevorderde leeftyd.
8En terwyl hy besig was om die priesteramp voor God te bedien in die beurt van sy afdeling,
9het die lot volgens priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die tempel van die Here en reukwerk te brand.
10En die hele menigte van die volk was buite, besig om te bid op die uur van die reukoffer.
11Toe verskyn daar aan hom 'n engel van die Here, wat aan die regterkant van die reukofferaltaar staan.
12En toe Sagaría hom sien, was hy ontsteld, en vrees het hom oorval.
13Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Johannes noem.
14En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees;
15want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af.
16En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God.
17En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei.
18Toe sê Sagaría vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? Want ek is 'n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd.
19En die engel antwoord en sê vir hom: Ek is Gabriël wat voor God staan, en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring.
20En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie.
21En die volk het op Sagaría bly wag en was verwonderd dat hy so lank in die tempel vertoef.
22Maar toe hy uitkom, kon hy met hulle nie praat nie; hulle bemerk toe dat hy 'n gesig in die tempel gesien het. En hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.
23En toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan.
24En ná hierdie dae het Elisabet, sy vrou, ontvang en haar vyf maande lank verberg en gesê:
25So het die Here met my gedoen in die dae toe Hy my aangesien het om my smaad onder die mense weg te neem.
Die geboorte van Jesus aangekondig.
26EN in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na 'n stad in Galiléa met die naam van Násaret,
27na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria.
28En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue.
29En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken.
30En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind.
31En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.
32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee,
33en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.
34Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie?
35En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.
36En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook 'n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is.
37Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.
38En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord. En die engel het van haar weggegaan.
Maria besoek Elisabet.
39EN in daardie dae het Maria opgestaan en haastig na die bergstreek gegaan, na 'n stad van Juda;
40en sy het in die huis van Sagaría gekom en Elisabet gegroet.
41En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees
42en het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot!
43En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom?
44Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring.
45En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word.
Lofsang van Maria.
46EN Maria het gesê: My siel maak die Here groot,
47en my gees is verheug in God, my Saligmaker;
48omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem.
49Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam.
50En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees.
51Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi.
52Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.
53Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.
54Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink —
55soos Hy tot ons vaders gespreek het — aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.
56En Maria het by haar omtrent drie maande gebly; en sy het teruggegaan na haar huis toe.
Geboorte van Johannes die Doper.
57EN die tyd dat sy moeder moes word, is vir Elisabet vervul, en sy het 'n seun gebaar.
58En toe haar bure en bloedverwante hoor dat die Here sy barmhartigheid aan haar groot gemaak het, was hulle saam met haar bly.
59En op die agtste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaría noem, na die naam van sy vader.
60Toe antwoord sy moeder en sê: Nee, maar hy moet Johannes genoem word.
61En hulle sê vir haar: Daar is niemand in jou familie wat dié naam het nie.
62En hulle beduie vir sy vader hoe hy wou hê dat hy genoem moes word.
63Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf: Johannes is sy naam. En almal was verwonderd.
64En onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak, en hy het gepraat en God geloof.
65En daar het vrees gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het, en daar is baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Judéa.
66En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê: Wat sal tog van hierdie kindjie word? En die hand van die Here was met hom.
Lofsang van Sagaría.
67EN Sagaría, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en gesê:
68Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het,
69en 'n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg —
70soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af —
71redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat,
72om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink,
73aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee
74dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien,
75in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.
76En jy, kindjie, sal 'n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak;
77om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes,
78deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het,
79om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig.
80En die kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees; en hy was in die woestyne tot op die dag van sy vertoning aan Israel.