Wette oor die reinheid van die priesters.
1VERDER het die Here vir Moses gesê: Spreek met die priesters, die seuns van Aäron, en sê vir hulle: Aan 'n dooie moet 'n priester hom nie verontreinig onder sy volksgenote nie;
2behalwe aan sy bloedverwant, sy nabestaande: aan sy moeder en sy vader en sy seun en sy dogter en sy broer;
3en aan sy suster wat jongmeisie is, sy nabestaande, wat nie aan 'n man toebehoort het nie — aan haar mag hy hom verontreinig.
4Hy mag hom as getroude man nie verontreinig onder sy volksgenote om hom te ontheilig nie.
5Hulle mag op hul hoof geen kaalte maak en die rand van hulle baard nie wegskeer en in hulle vlees geen insnyding maak nie.
6Heilig moet hulle aan hulle God wees en die Naam van hulle God nie ontheilig nie; want hulle offer die vuuroffers van die Here, die spys van hulle God; daarom moet hulle heilig wees.
7Hulle mag geen vrou neem wat 'n hoer of 'n onteerde is nie; en 'n vrou wat deur haar man verstoot is, mag hulle nie neem nie; want hy is heilig aan sy God.
8Daarom moet jy hom heilig hou, omdat hy die spys van jou God offer. Hy moet vir jou heilig wees, want heilig is Ek, die Here wat julle heilig.
9En as die dogter van 'n priester haar ontheilig om te hoereer, ontheilig sy haar vader; met vuur moet sy verbrand word.
10En die priester wat die hoogste onder sy broers is, op wie se hoof die salfolie uitgegiet is en wat as priester aangestel is om die klere aan te trek — hy mag sy hare nie laat loshang en geen skeure in sy klere maak nie.
11En hy mag by geen dooie kom nie, selfs aan sy vader en moeder hom nie verontreinig nie;
12en hy mag uit die heiligdom nie uitgaan nie, sodat hy die heiligdom van sy God nie ontheilig nie, want die wyding van die salfolie van sy God is op hom. Ek is die Here.
13En hý moet 'n vrou in haar maagdelike staat neem.
14'n Weduwee of een wat verstoot is of 'n onteerde, of 'n hoer — hulle moet hy nie neem nie; maar 'n jongmeisie uit sy volksgenote moet hy as vrou neem,
15dat hy nie sy kroos onder sy volksgenote ontheilig nie; want Ek is die Here wat hom heilig.
16Verder het die Here met Moses gespreek en gesê:
17Spreek met Aäron en sê: Niemand uit jou nakomelinge, in hulle geslagte, aan wie 'n liggaamsgebrek is, mag nader kom om die spys van sy God te offer nie.
18Want niemand aan wie 'n liggaamsgebrek is, mag nader kom nie: 'n blinde of 'n lamme of een wat in die gesig vermink is of iemand by wie 'n liggaamsdeel te lank is,
19of iemand wat 'n been of 'n arm gebreek het,
20of wat 'n boggel het of uitgeteer is of 'n vlek in sy oog het of aan skurfte of uitslag ly of 'n gebreklike skaamdeel het.
21Geen man uit die nageslag van Aäron, die priester, aan wie 'n liggaamsgebrek is, mag nader kom om die vuuroffers van die Here te offer nie. 'n Liggaamsgebrek is aan hom; hy mag nie nader kom om die spys van sy God te offer nie.
22Wat die spys van sy God aangaan, hy mag van die hoogheilige en heilige gawes eet;
23maar hy mag nie na die voorhangsel gaan en na die altaar nie nader kom nie, omdat 'n liggaamsgebrek aan hom is, dat hy my heiligdomme nie ontheilig nie; want Ek is die Here wat hulle heilig.
24En Moses het dit aan Aäron en sy seuns gesê en aan al die kinders van Israel.