Die lewe is swaar, dié van Job veral.
1HET die mens nie 'n stryd op die aarde nie? En is sy dae nie soos die dae van 'n dagloner nie?
2Soos 'n slaaf wat hyg na die skaduwee, en soos 'n dagloner wat wag op sy werkloon,
3so het ek erfgenaam geword van maande van teleurstelling en is nagte van moeite vir my bestem.
4As ek gaan lê, dink ek: Wanneer sal ek opstaan? Maar die aand is lank, en ek word sat van al die omdraai tot die môreskemering toe.
5My vlees is bekleed met wurms en stofklonte; my vel trek opmekaar en etter dan weer.
6My dae is vinniger as 'n wewerspoel en verdwyn sonder verwagting.
7Bedink tog dat my lewe wind is; my oog sal die voorspoed nie weer sien nie.
8Die oog van hom wat my sien, sal my nie meer aanskou nie. U oë is op my — en ek is daar nie!
9Die wolk verdwyn en gaan heen — so kom hy nie weer op wat na die doderyk neerdaal nie.
10Hy sal nie meer teruggaan na sy huis nie, en sy plek sal hom nie meer ken nie.
Daarom wil hy klae en vra waarom God hom só besoek.
11SO wil dan ook ék my mond nie hou nie, ek wil spreek in die benoudheid van my gees, ek wil klae in die bitterheid van my siel.
12Is ek 'n see, of 'n groot seedier, dat U 'n wag teen my opstel?
13As ek sê: My bed sal my troos, my slaapplek sal my klagte help dra,
14dan verskrik U my deur drome en ontstel my deur gesigte,
15sodat ek die verwurging verkies, die dood meer as hierdie geraamte van my.
16Ek verfoei my lewe. Nie vir altyd sal ek lewe nie: laat my met rus, want my dae is nietigheid.
17Wat is die mens, dat U hom so hoog stel en dat U op hom ag gee?
18En dat U hom elke môre soek, elke oomblik hom op die proef stel?
19Hoe lank sal U nie van my af wegkyk nie, my nie laat staan nie, totdat ek my speeksel insluk?
20As ek gesondig het, wat doen ek U aan, o Mensebewaker? Waarom het U my as mikpunt vir U opgestel, sodat ek myself tot 'n las is?
21En waarom vergeef U nie my oortreding en neem my ongeregtigheid nie weg nie? Want weldra sal ek in die stof lê; dan sal U my soek, maar ek sal daar nie wees nie.