1NIEMAND is so vermetel, dat hy hom durf terg nie; wie is hy dan wat voor My sou standhou?
2Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne.
3Ek wil nie swyg oor sy lede en hoe dit staan met sy kragsvolheid en die skoonheid van sy uitrusting nie.
4Wie het die boonste van sy pantser opgelig? In sy dubbele gebit — wie kan daarin deurdring?
5Die deure van sy gesig — wie het dit geopen? Rondom sy tande is verskrikking.
6'n Voorwerp van trots is die groewe van die skilde, verseël met 'n vaste seël.
7Die een is so naby die ander, dat die wind daar nie tussenin kan kom nie.
8Hulle kleef aanmekaar, hou aanmekaar vas, onafskeibaar.
9Sy genies laat lig skitter, en sy oë is soos die ooglede van die dageraad.
10Uit sy mond kom fakkels, spat vuurvonke uit.
11Uit sy neusgate kom rook, soos uit 'n kokende pot met biesiesvuur daarby.
12Sy asem laat kole ontvlam, en 'n vlam gaan uit sy mond.
13In sy nek woon sterkte, en voor hom uit spring ontsteltenis.
14Die klompe van sy vleis is vas aanmekaar, aan hom vasgegiet, onbeweeglik.
15Sy hart is hard soos 'n klip, ja, hard soos die onderste meulsteen.
16As hy hom oplig, word die magtiges bang; van verbystering raak hulle buite hulself.
17Raak iemand hom met die swaard — dit hou nie stand nie; geen spies, lans of assegaai nie.
18Yster is vir hom soos strooi; koper soos hout wat vergaan het.
19Die pyl laat hom nie vlug nie; slingerstene word vir hom soos stoppels.
20Knopkieries is vir hom soos stoppels, en hy lag oor die gesuis van die lans.
21Onderaan hom is spits skerwe: hy sprei 'n ware dorsslee uit op die modder.
22Hy laat die diepte kook soos 'n pot; die waterplas maak hy soos 'n kokende salfpot.
23Agter hom verlig hy die pad: 'n mens sou die watervloed aansien vir grys hare.
24Sy gelyke is daar op die aarde nie, die skepsel sonder vrees.
25Hy kyk alles aan wat hoog is; hy is koning oor al die trotse roofdiere.