1SO sê die Here: Kyk, Ek wek op teen Babel en teen die inwoners van „die Hart van my Teëstanders” die gees van 'n verwoester.
2En Ek sal vir Babel wanners stuur wat hom sal uitwan en sy land leegskud; want hulle lê rondom teen hom op die dag van onheil.
3Laat die skutter sy boog span teen hom wat span, en teen die een wat hom in sy pantser verhef; en spaar sy jongmanne nie, tref sy ganse leër met die banvloek!
4So sal daar dan gesneuweldes val in die land van die Chaldeërs en die wat deurboor is, op sy strate.
5Want Israel en Juda is nie in weduweeskap gelaat deur hulle God, deur die Here van die leërskare nie, al was hulle land vol skuld voor die Heilige van Israel.
6Vlug uit Babel uit, en red elkeen sy lewe; kom nie om in sy ongeregtigheid nie; want dit is die tyd van wraak vir die Here: Hy gee hom sy verdiende loon.
7Babel was in die hand van die Here 'n goue beker wat die hele aarde dronk gemaak het; die nasies het van sy wyn gedrink; daarom het die nasies rasend geword.
8Skielik het Babel geval en is verbreek. Huil oor hom; gaan haal balsem vir sy pyn! Miskien sal hy gesond word.
9Ons het aan Babel medisyne gegee, maar hy het nie gesond geword nie; verlaat hom en laat ons trek, elkeen na sy land; want sy strafgerig raak tot aan die hemel en verhef hom tot by die wolke.
10Die Here het ons geregtighede te voorskyn gebring; kom en laat ons in Sion vertel die werk van die Here onse God!
11Maak skerp die pyle, vat die skilde! Die Here het die gees van die konings van Medië opgewek; want sy voorneme is teen Babel om hom te verwoes; want dit is die wraak van die Here, die wraak van sy tempel.
12Hef 'n banier op teen die mure van Babel, versterk die wagposte, sit wagte uit, hou hinderlae klaar; want soos die Here Hom voorgeneem het, so het Hy gedoen wat Hy oor die inwoners van Babel gespreek het.
13Jy wat by die groot waters woon, wat skatryk is, jou einde het gekom, die maat waarop jy afgesny word.
14Die Here van die leërskare het by Homself gesweer: Al het Ek jou vol mense gemaak soos sprinkane, tog sal hulle oor jou 'n vreugdegeroep aanhef.
15Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand —
16as Hy sy stem laat hoor, is daar 'n geruis van waters in die hemel; en Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde; Hy maak bliksems vir die reën en laat die wind uitgaan uit sy voorraadskure.
17Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die beeld; want sy gegote beeld is 'n leuen, en daar is geen gees in hulle nie.
18Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet.
19Jakob se deel is nie soos hulle nie; want Hy is die Formeerder van alles, en Israel is die stam van sy erfenis; Here van die leërskare is sy Naam.
20Jy is vir My 'n hamer en oorlogswapens; en met jou verbrysel Ek nasies, en met jou verwoes Ek koninkryke.
21En met jou verbrysel Ek die perd en sy ruiter; en met jou verbrysel Ek die strydwa en die wat daarop ry.
22En Met jou verbrysel Ek man en vrou; en met jou verbrysel Ek grysaard en seun; en met jou verbrysel Ek die jongman en die jongedogter.
23En met jou verbrysel Ek die herder en sy trop vee; en met jou verbrysel Ek die landbouer en sy twee osse; en met jou verbrysel Ek goewerneurs en owerstes.
24Maar Ek sal voor julle oë aan Babel en aan al die inwoners van Chaldéa vergelde al hulle kwaad wat hulle in Sion gedoen het, spreek die Here.
25Kyk, Ek het dit teen jou, o berg wat verwoes, spreek die Here; jy wat die hele aarde verwoes. En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou van die rotse afrol en sal jou maak 'n afgebrande berg.
26En hulle sal uit jou geen klip neem vir 'n hoek of 'n klip vir fondamente nie; want jy sal ewige wildernisse wees, spreek die Here.
27Hef 'n banier op oor die aarde, blaas die basuin onder die nasies, heilig nasies teen hom, roep teen hom op die koninkryke van Árarat, Minni en Áskenas, stel 'n kommandant teen hom aan, laat perde optrek soos stekerige sprinkane!
28Heilig nasies teen hom, die konings van Medië, die goewerneurs en al die owerstes daarvan, ja, die hele land van sy heerskappy.
29Dan bewe die aarde en krimp inmekaar; want die gedagtes van die Here kom tot stand teen Babel, om die land van Babel 'n woesteny te maak, sonder inwoner.
30Die helde van Babel het opgehou om te veg, hulle het gebly in die bergvestings; hulle mag het verdwyn, hulle het vroue geword. Hulle het sy wonings aan die brand gesteek, sy grendels is verbreek.
31Die een loper hardloop die ander tegemoet en die een boodskapper die ander, om aan die koning van Babel bekend te maak dat sy stad van alle kante ingeneem is;
32en dat die driwwe beset is, en hulle die rietvleie met vuur verbrand het, en die krygsmanne verskrik is.
33Want so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Die dogter van Babel is soos 'n dorsvloer in die tyd as dit vasgetrap word; nog 'n kort rukkie, dan kom die oestyd vir hom.
34Nebukadrésar, die koning van Babel, het my opgeëet, my vernietig; hy het my neergesit soos 'n leë skottel; hy het my verslind soos 'n draak; hy het sy buik met my lekkernye gevul; hy het my weggestoot.
35Laat die inwoners van Sion sê: Die geweld en die verminking wat my aangedoen is, is op Babel! En laat Jerusalem sê: My bloed is op die inwoners van Chaldéa!
36Daarom, so sê die Here: Kyk, Ek verdedig jou saak en sal vir jou wraak neem; en Ek sal sy see droogmaak en sy fontein laat opdroë.
37En Babel sal kliphope word, 'n lêplek van jakkalse, 'n voorwerp van verbasing en bespotting, sonder inwoner.
38Almal saam brul hulle soos jong leeus, brom soos klein leeutjies.
39As hulle verhit is, berei Ek hulle maaltyd en maak hulle dronk, sodat hulle uitgelate word en 'n ewige slaap kan slaap en nie wakker word nie, spreek die Here.
40Ek sal hulle afbring soos lammers om geslag te word, soos ramme saam met bokke.
41Hoe is Sesag ingeneem en die roem van die hele aarde verower! Hoe het Babel 'n voorwerp van verbasing geword onder die nasies!
42Die see het oor Babel opgerys, deur die gebruis van sy golwe is hy oordek.
43Sy stede het 'n woesteny geword, 'n dor land en 'n wildernis; 'n land waar niemand in woon nie, en waar geen mensekind deurtrek nie.
44En Ek sal besoeking doen oor Bel in Babel en uit sy mond uithaal wat hy verslind het; en geen nasies sal meer na hom toestroom nie. Ook val die muur van Babel.
45Gaan uit hom uit, my volk, en red elkeen sy lewe van die toorngloed van die Here!
46En laat julle hart nie week wees, sodat julle bevrees word by die tyding wat in die land gehoor word nie, as daar 'n tyding kom in die een jaar, en daarna 'n tyding in die ander jaar, en daar geweld is in die land, heerser teen heerser.
47Daarom, kyk, daar kom dae dat Ek besoeking sal doen oor die gesnede beelde van Babel; en sy hele land sal beskaamd staan, en al sy gesneuweldes sal daarin val.
48Dan sal oor Babel juig hemel en aarde en alles wat daarin is; want uit die noorde kom die verwoesters oor hom, spreek die Here.
49Ook Babel moet val, o gesneuweldes van Israel, soos ook vir Babel geval het die gesneuweldes van die hele aarde.
50Vrygeraaktes van die swaard, gaan weg, bly nie staan nie, dink aan die Here uit die verte, en laat Jerusalem in julle hart opkom!
51Ons staan beskaamd, want ons het smaadwoorde gehoor, skande het ons aangesig bedek; want vreemdes het gekom oor die heiligdomme van die huis van die Here.
52Daarom kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek besoeking sal doen oor sy gesnede beelde; en die gewondes sal kerm in sy hele land.
53Al sou Babel in die hemel opklim, en al sou hy die hoogte van sy vesting versterk — van My af sal verwoesters oor hom kom, spreek die Here.
54Hoor! Geskreeu uit Babel en groot verbreking uit die land van die Chaldeërs;
55want die Here verwoes Babel en sal uit hom die groot geraas laat verdwyn; en hulle golwe sal bruis soos groot waters, die gedruis van hulle geluid sal weergalm.
56Want 'n verwoester oorval hom, oorval Babel, en sy helde word gevang, hulle boë word stukkend gebreek; want 'n God van vergelding is die Here; Hy sal gewis vergelde.
57En Ek sal sy vorste en sy wyse manne, sy goewerneurs en sy owerstes en sy helde dronk maak; en hulle sal slaap 'n ewige slaap en nie wakker word nie, spreek die Koning wie se Naam is Here van die leërskare.
58So sê die Here van die leërskare: Die breë muur van Babel sal tot op die grond toe afgebreek en sy hoë poorte sal met vuur verbrand word, sodat volke vir niks gearbei het en nasies vir die vuur; en hulle sal afgemat wees.
59Die woord waarmee die profeet Jeremia bevel gegee het aan Serája, die seun van Nería, die seun van Magséja, toe hy saam met Sedekía, die koning van Juda, na Babel getrek het, in die vierde jaar van sy regering. En Serája was laerkommandant.
60En Jeremia het in 'n boek geskrywe al die onheil wat oor Babel sou kom, al hierdie woorde wat oor Babel geskrywe is.
61En Jeremia het vir Serája gesê: As jy in Babel kom, dink daaraan en lees al hierdie woorde;
62en sê: o Here, U het oor hierdie plek gespreek om dit uit te roei, sodat daar geen inwoner, mens sowel as dier, sal wees nie, maar dat dit ewige wildernisse sal wees.
63En as jy hierdie boek klaar gelees het, moet jy 'n klip daaraan vasmaak en dit binne-in die Eufraat gooi
64en sê: So sal Babel sink en nie weer opkom nie weens die onheil wat Ek oor hom bring; en hulle sal afgemat wees. Tot sover die woorde van Jeremia.