Jeremia bid tevergeefs vir die volk.
1DIE woord van die Here wat tot Jeremia gekom het weens die groot droogte.
2Juda treur en sy poorte verval; hulle sit in rou op die grond, en die geskreeu van Jerusalem gaan op.
3En die vernames onder hulle stuur hulle ondergeskiktes na die water; hulle kom by die bakke, hulle kry geen water nie; leeg kom hulle kanne terug; hulle het beskaamd gestaan en in die skande gekom en bedek hulle hoof.
4Weens die land wat verslae is, omdat daar geen reën op die aarde is nie, kom die landbouers in die skande, hulle bedek hulle hoof.
5Want selfs die wildsbok in die veld lam en gooi haar lam weg, omdat daar geen jong gras is nie.
6En wilde-esels staan op die kaal heuwels, hulle snuif die wind op soos die jakkalse; hulle oë versmag, omdat daar geen gras is nie.
7Hoewel ons ongeregtighede teen ons getuig, o Here, doen dit om u Naam ontwil; want ons afkerighede is baie, ons het teen U gesondig.
8o Verwagting van Israel, sy Verlosser in tyd van benoudheid! Waarom sou U wees soos 'n vreemdeling in die land en soos 'n reisiger wat uitdraai om te vernag?
9Waarom sou U wees soos 'n man wat verslae is, soos 'n held wat nie kan verlos nie? U is tog in ons midde, o Here, en u Naam is oor ons uitgeroep. Verlaat ons nie!
10So sê die Here van hierdie volk: Só het hulle daarvan gehou om te swerwe, hulle het hul voete nie teruggehou nie; daarom het die Here geen behae in hulle nie. Nou sal Hy aan hulle ongeregtigheid dink en hulle sondes besoek.
11Verder het die Here vir my gesê: Bid nie vir hierdie volk ten goede nie.
12As hulle vas, luister Ek nie na hulle gesmeek nie; en as hulle brandoffer en spysoffer bring, het Ek in hulle geen behae nie; maar deur die swaard en die hongersnood en die pes maak Ek hulle tot niet.
13Toe sê ek: Ag, Here Here, kyk, die profete sê vir hulle: Julle sal geen swaard sien en geen hongersnood hê nie; maar Ek sal julle 'n duursame vrede gee in hierdie plek.
14En die Here het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle 'n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart.
15Daarom, so spreek die Here: Aangaande die profete wat profeteer in my Naam sonder dat Ek hulle gestuur het, en wat sê: Daar sal geen swaard of hongersnood in hierdie land wees nie — dié profete sal deur die swaard en die hongersnood omkom.
16En die volk vir wie hulle profeteer, sal in die strate van Jerusalem weggegooi lê vanweë die hongersnood en die swaard sonder dat iemand hulle begrawe; hulle, hulle vrouens en hulle seuns en hulle dogters. So sal Ek dan hulle boosheid oor hulle uitstort.
17Sê aan hulle dan hierdie woord: Laat my oë afloop in trane nag en dag en nie ophou nie; want die jonkvrou, die dogter van my volk, is gebreek met 'n groot verbreking, met 'n baie smartlike wond.
18As ek uitgaan in die veld, lê daar die wat verslaan is deur die swaard; en as ek kom in die stad, is daar die kwale van die hongersnood. Ja, selfs profeet en priester trek rond in die land sonder om iets te weet.
19Het U Juda dan heeltemal verwerp? Of het u siel 'n afsku van Sion? Waarom het U ons geslaan, sodat daar geen genesing vir ons is nie? Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; en op 'n tyd van beterskap, maar daar is verskrikking.
20Here, ons ken ons goddeloosheid, die ongeregtigheid van ons vaders, want ons het teen U gesondig.
21Verwerp ons nie ter wille van u Naam; onteer die troon van u heerlikheid nie; hou tog in gedagtenis, verbreek nie u verbond met ons nie.
22Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak? Of kan die hemel reënbuie gee? Is U dit nie, o Here onse God? En ons wag op U, want Ú doen al hierdie dinge.