Jesaja as profeet geroep.
1IN die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op 'n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.
2Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg.
3En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!
4En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword.
5Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die Here van die leërskare, gesien!
6Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met 'n gloeiende kool in sy hand, wat hy met 'n tang van die altaar af geneem het,
7en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen.
8Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.
9En Hy het gespreek: Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie.
10Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.
11Toe sê ek: Hoe lank, Here? En Hy antwoord: Totdat die stede verwoes lê, sonder inwoners, en die huise sonder mense en die land verwoes is tot 'n wildernis,
12en die Here die mense ver verwyder het en die verlatenheid groot is in die land.
13En as nog 'n tiende deel daarin is, sal dit weer wees tot verwoesting; maar soos by die terpentynboom en die eikeboom — as hulle omgekap word — 'n stomp oorbly, so sal die heilige geslag die stomp daarvan wees.