Die trooswoord van die God van Israel.
1TROOS, troos my volk, sê julle God.
2Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die Here dubbel ontvang het vir al haar sondes.
3'n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die Here; maak gelyk in die wildernis 'n grootpad vir onse God!
4Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet 'n gelykte en die rotsagtige plekke 'n laagte word.
5En die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die Here het dit gespreek.
6'n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos 'n blom van die veld.
7Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die Here daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras!
8Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.
9o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op 'n hoë berg! o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God!
10Kyk, die Here Here sal kom as 'n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.
11Hy sal sy kudde laat wei soos 'n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.
God alleen groot bo alle skepsele.
12WIE het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met 'n span die maat geneem, en in 'n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met 'n weegtoestel en die heuwels met 'n weegskaal?
13Wie het die Gees van die Here bestier en as sy raadsman Hom onderrig?
14Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?
15Kyk, die nasies is soos 'n druppel aan die emmer, en soos 'n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos 'n stoffie!
16En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie.
17Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken.
18By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?
19Die ambagsman giet 'n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings.
20Wie te arm is vir so 'n offergawe, kies 'n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom 'n kunsvaardige ambagsman om 'n beeld op te rig wat nie wankel nie.
21Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie?
22Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos 'n dun doek en sprei dit uit soos 'n tent om in te woon.
23Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid;
24skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos 'n stoppel.
25By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige.
26Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.
Laat Israel nie moedeloos wees nie.
27WAAROM sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die Here verborge, en my reg gaan by my God verby?
28Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.
29Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.
30Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs;
31maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.