Jakob seën sy seuns. Daarna sterwe hy.
1DAARNA het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.
2Versamel en hoor, seuns van Jakob, en luister na Israel, julle vader!
3Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag!
4Opbruising soos van waters — jy sal die vernaamste nie wees nie, want jy het die bed van jou vader beklim; toe het jy dit ontheilig. Hy het my bed beklim.
5Símeon en Levi is broers. Hulle wapens is werktuie van geweld.
6Laat my siel nie kom in hulle raad nie, laat my eer nie eens wees met hulle vergadering nie. Want in hul toorn het hulle manne doodgeslaan, en in hulle moedswilligheid het hulle beeste vermink.
7Vervloek is hulle toorn, want dit is heftig; en hulle grimmigheid, want dit is hard. Ek sal hulle verdeel in Jakob en hulle verstrooi in Israel.
8Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig.
9Juda is 'n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos 'n leeu en soos 'n leeuin; wie sal hom opjaag?
10Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.
11Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; Hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed.
12Hy is donkerder van oë as wyn en witter van tande as melk.
13Sébulon sal woon by die strand van die see; en hy sal by die strand van die skepe wees, met die sykant na Sidon toe.
14Íssaskar is 'n sterkgebeende esel wat tussen die veekrale lê.
15Toe hy sien dat die rus goed en die land lieflik is, het hy sy skouer gebuig om te dra, en hy moes dwangarbeid verrig.
16Dan sal aan sý volk reg verskaf net soos enigeen van die stamme van Israel.
17Laat Dan 'n slang wees op die weg, 'n horingslang op die pad, wat die perd aan die hakskene byt, sodat sy ruiter agteroorval.
18Op u verlossing wag ek, Here!
19Gad — 'n bende sal hom aanval, maar hý sal hulle aan die hakskeen gryp.
20Aser, sy spys is vet, en hý lewer koninklike lekkernye.
21Náftali is soos 'n wildsbok so vry, hy wat mooi woorde laat hoor.
22Josef is 'n jong vrugteboom, 'n jong vrugteboom by 'n fontein; sy takke klim oor die muur.
23Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry,
24maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob — daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is,
25van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot.
26Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers.
27Benjamin is 'n wolf wat verskeur; in die môre eet hy sy prooi, en in die aand deel hy buit uit.
28Húlle almal is die twaalf stamme van Israel; en dit is wat hulle vader aan hulle gesê het, en hy het hulle geseën; hy het hulle geseën, elkeen volgens sy besondere seën.
29Daarna het hy hulle bevel gegee en aan hulle gesê: Ek word versamel by my volk. Begrawe my by my vaders in die spelonk wat op die stuk grond van Efron, die Hetiet, is;
30in die spelonk wat op die stuk grond van Magpéla is, wat oos van Mamre lê, in die land Kanaän; die stuk grond wat Abraham van Efron, die Hetiet, as eiendomsgraf gekoop het.
31Daar het hulle Abraham begrawe en Sara, sy vrou; daar het hulle Isak begrawe en Rebekka, sy vrou; en daar het ek Lea begrawe —
32die stuk grond en die spelonk wat daarin is, wat gekoop is van die seuns van Het.
33Toe Jakob klaar sy bevele aan sy seuns gegee het, trek hy sy voete terug op die bed en blaas die asem uit; en hy is by sy volksgenote versamel.