Geboorte van Isak. Abraham verdryf Hagar en Ismael.
1EN die Here het Sara besoek soos Hy beloof het; en die Here het aan Sara gedoen soos Hy gespreek het:
2Sara het bevrug geword en vir Abraham in sy ouderdom 'n seun gebaar op die bepaalde tyd wat God genoem het.
3En Abraham het sy seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom gebaar het, Isak genoem.
4En Abraham het sy seun Isak besny toe hy agt dae oud was, soos God hom beveel het.
5En Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak vir hom gebore is.
6En Sara het gesê: 'n Gelag het God my berei: elkeen wat dit hoor, sal oor my lag.
7Verder sê sy: Wie kon ooit aan Abraham voorspel het: Sara soog kinders? Want ek het 'n seun gebaar in sy ouderdom.
8En die kind het opgegroei en is gespeen. En Abraham het 'n groot maaltyd berei op die dag toe Isak gespeen is.
9Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham gebaar het, spot;
10en sy sê aan Abraham: Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie.
11En die woord was baie verkeerd in die oë van Abraham vanweë sy seun.
12Maar God het aan Abraham gesê: Laat dit nie verkeerd wees in jou oë ter wille van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara in alles wat sy van jou verlang, want deur Isak sal daar vir jou 'n nageslag genoem word.
13Maar Ek sal ook die seun van die slavin tot 'n nasie maak, omdat hy jou kind is.
14Toe is Abraham die môre vroeg op, en hy het brood en 'n sak met water geneem en dit aan Hagar gegee deur dit op haar skouer te sit, en ook die kind, en haar weggestuur. Sy het toe weggegaan en rondgedwaal in die woestyn van Berséba.
15En toe die water in die sak op was, het sy die kind onder een van die bosse neergewerp
16en geloop en op 'n afstand gaan sit so ver as 'n boog kan skiet; want sy het gesê: Ek wil die dood van die kind nie aansien nie. En sy het op 'n afstand gaan sit en haar stem verhef en geween.
17Toe hoor God die stem van die seun, en die Engel van God het na Hagar geroep uit die hemel en haar gevra: Wat is dit met jou, Hagar? Wees nie bevrees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is.
18Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom 'n groot nasie maak.
19Daarop het God haar oë geopen, en sy sien 'n put! En sy het geloop en die sak vol water gemaak en die seun laat drink.
20En God was met die seun; en hy het opgegroei en in die woestyn gewoon en 'n boogskutter geword:
21hy het in die woestyn Paran gewoon; en sy moeder het vir hom 'n vrou uit Egipteland geneem.
Verbond tussen Abraham en Abiméleg.
22IN dié tyd het Abiméleg en Pigol, sy leërowerste, met Abraham gespreek en gesê: God is met jou in alles wat jy doen.
23Sweer dan nou vir my hier by God dat jy met my en my kroos en my nageslag nie vals sal handel nie; dieselfde guns wat ek jou bewys het, moet jy aan my bewys en aan die land waarin jy as vreemdeling vertoef.
24En Abraham antwoord: Ek sweer.
25Maar Abraham het Abiméleg aangespreek oor 'n put wat die dienaars van Abiméleg met geweld geneem het.
26Daarop antwoord Abiméleg: Ek weet nie wie dit gedoen het nie, en jy het my dit ook nie meegedeel nie, en ek het daar ook niks van gehoor nie as net vandag.
27Toe neem Abraham kleinvee en beeste en gee dit aan Abiméleg; en hulle twee het 'n verbond gesluit;
28Abraham het naamlik die sewe ooilammers van die kleinvee eenkant uitgekeer.
29Toe sê Abiméleg vir Abraham: Wat beteken hierdie sewe ooilammers wat jy uitgekeer het?
30En hy antwoord: Die sewe ooilammers moet jy uit my hand aanneem, sodat dit vir my 'n getuienis kan wees dat ek hierdie put gegrawe het.
31Daarom noem hulle dié plek Berséba, omdat hulle twee daar gesweer het.
32So het hulle dan 'n verbond gesluit in Berséba. Daarna het Abiméleg en Pigol, sy leërowerste, klaargemaak en na die land van die Filistyne teruggegaan.
33En hy het 'n tamarisk in Berséba geplant en daar die Naam van die Here, die ewige God, aangeroep.
34En Abraham het baie dae as vreemdeling in die land van die Filistyne vertoef.