Verwoesting van Sodom. Vertrek van Lot.
1EN die twee engele het in die aand in Sodom aangekom, terwyl Lot in die poort van Sodom sit; en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle tegemoet te gaan en hom gebuig met die aangesig na die aarde toe
2en gesê: Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor en was u voete; dan kan u vroeg opstaan en u reis voortsit. Maar hulle antwoord: Nee, ons sal op die plein vernag.
3Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy huis gekom het. En hy het vir hulle 'n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak, en hulle het geëet.
4Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam.
5En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken.
6Daarop gaan Lot na hulle toe uit voor die ingang en sluit die deur agter hom toe
7en sê: My broers, moet tog nie kwaad doen nie.
8Kyk tog, ek het twee dogters wat geen man beken het nie; laat ek dié na julle uitbring, en doen met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie manne moet julle niks doen nie, want daarom het hulle onder die skaduwee van my dak ingekom.
9Toe antwoord hulle: Gee pad daar! En hulle sê: Hierdie een het gekom om hier as vreemdeling te vertoef en wil tog gedurig die baas speel. Nou sal ons jou meer kwaad doen as aan hulle. En hulle het sterk op die man, op Lot, aangedring en nader gekom om die deur oop te breek.
10Maar die manne het hulle hand uitgesteek en Lot by hulle in die huis gebring en die deur toegesluit.
11Toe slaan hulle die manne wat by die ingang van die huis was, klein en groot, met blindheid, sodat hulle tevergeefs na die ingang gesoek het.
12Daarop sê die manne vir Lot: Wie het jy hier nog? 'n Skoonseun en jou seuns en jou dogters en almal wat jy het in die stad — bring hulle uit die plek uit;
13want ons gaan hierdie plek verwoes, omdat die geroep oor hulle groot is voor die aangesig van die Here, en die Here het ons gestuur om dit te verwoes.
14Toe gaan Lot uit en praat met sy skoonseuns wat met sy dogters sou trou, en sê: Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die Here gaan die stad verwoes. Maar hy was in die oë van sy skoonseuns soos een wat gekskeer.
15En toe die dag begin breek, het die engele by Lot aangedring en gesê: Maak jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie.
16Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die Here hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad.
17En toe hulle hulle na buite uitgelei het, sê Hy: Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, en moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie!
18Daarop antwoord Lot hulle: Ag nee, my Here!
19Kyk tog, u kneg het genade in u oë gevind, en U het u guns groot gemaak wat U aan my bewys het deur my in die lewe te behou. Maar ek is nie in staat om na die gebergte te vlug sonder dat die onheil my inhaal en ek sterwe nie.
20Kyk tog, hierdie stad is naby om daarheen te vlug, en dit is klein. Laat my tog daarheen vlug — is dit nie klein nie? — dat ek kan lewe!
21En Hy sê vir hom: Kyk, Ek neem jou ook in hierdie saak in guns aan, sodat Ek die stad waarvan jy gespreek het, nie sal omkeer nie.
22Vlug gou daarheen, want Ek kan niks doen voordat jy daar aankom nie. Daarom noem hulle die stad Soar.
23Die son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom.
24En die Here het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die Here uit die hemel,
25en Hy het hierdie stede omgekeer en die hele Jordaanstreek, ook al die inwoners van die stede en wat op die grond groei.
26En sy vrou het agter hom omgekyk, en sy het 'n soutpilaar geword.
27En Abraham is vroeg in die môre na die plek waar hy voor die aangesig van die Here gestaan het.
28Toe hy uitkyk oor Sodom en Gomorra en oor die hele land van die Jordaanstreek, sien hy dat die rook van die land optrek soos die rook van 'n smeltoond.
29En onderwyl God die stede van die Jordaanstreek verwoes, het God aan Abraham gedink en Lot uitgelei uit die omkering toe Hy die stede omgekeer het waar Lot woonagtig was.
30En Lot het uit Soar opgetrek en saam met sy twee dogters gaan woon op die gebergte, want hy was bang om in Soar te bly; daarom het hy saam met sy twee dogters in 'n spelonk gaan woon.
31En die oudste het aan die jongste gesê: Ons vader is oud, en daar is geen man in die land om, na die reël van die ganse aarde, by ons in te gaan nie.
32Kom, laat ons aan ons vader wyn gee om te drink en met hom gemeenskap hou, sodat ons deur ons vader 'n geslag in die lewe kan hou.
33Hulle gee toe dié nag aan hulle vader wyn om te drink, en die oudste het gekom en met haar vader gemeenskap gehad sonder dat hy dit gewaar het toe sy gaan lê en toe sy opstaan.
34Die volgende dag sê die oudste aan die jongste: Kyk, ek het verlede nag met my vader gemeenskap gehad; laat ons hom vannag weer wyn gee om te drink; gaan dan in, hou met hom gemeenskap, dat ons deur ons vader 'n geslag in die lewe kan hou.
35Hulle gee toe dié nag weer aan hulle vader wyn om te drink, en die jongste het opgestaan en met hom gemeenskap gehad sonder dat hy dit gewaar het toe sy gaan lê en toe sy opstaan.
36So het dan die twee dogters van Lot by hulle vader bevrug geword,
37en die oudste het 'n seun gebaar en hom Moab genoem. Hy is die vader van die hedendaagse Moabiete.
38En die jongste het ook 'n seun gebaar en hom Ben-Ammi genoem. Hy is die vader van die hedendaagse Ammoniete.