God verander die naam van Abram en stel die besnydenis in.
1TOE Abram negen-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.
2En Ek wil my verbond sluit tussen My en jou, en jou buitengewoon vermeerder.
3Toe val Abram op sy aangesig, en God het met hom gespreek en gesê:
4Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van 'n menigte van nasies word.
5Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou 'n vader van 'n menigte van nasies.
6En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom.
7En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou.
8En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as 'n ewige besitting; en Ek sal vir hulle 'n God wees.
9Verder het God aan Abraham gesê: Maar jý moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag.
10Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word —
11julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en julle.
12'n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie —
13die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as 'n ewige verbond.
14En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie — dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek.
15Verder het God aan Abraham gesê: Sarai, jou vrou, moet jy nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sara wees.
16En Ek sal haar seën en jou uit haar ook 'n seun gee; ja, Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom.
17Toe val Abraham op sy aangesig, en hy lag en sê in sy hart: Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, 'n kind gebore word? Of kan Sara, wat negentig jaar oud is, baar?
18En Abraham sê aan God: Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig!
19Toe antwoord God: Voorwaar, jou vrou Sara sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Isak noem; en Ek sal my verbond met hom oprig as 'n ewige verbond vir sy nageslag ná hom.
20Ook wat Ismael aangaan, het Ek jou verhoor. Kyk, Ek seën hom en maak hom vrugbaar en vermeerder hom buitengewoon. Twaalf vorste sal hy verwek, en Ek sal hom 'n groot nasie maak.
21Maar my verbond sal Ek oprig met Isak wat Sara vir jou anderjaar op hierdie tyd sal baar.
22En nadat Hy klaar met hom gespreek het, het God van Abraham af opgevaar.
23Daarop neem Abraham sy seun Ismael en almal wat in sy huis gebore is, en almal wat met sy geld gekoop is, almal wat manlik was onder die mense in die huis van Abraham, en hy het die vlees van hulle voorhuid nog op daardie selfde dag besny, soos God met hom gespreek het.
24En Abraham was negen-en-negentig jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is.
25En sy seun Ismael was dertien jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is.
26Op daardie selfde dag is Abraham en sy seun Ismael besny
27en al die manne van sy huis — die wat in sy huis gebore en die wat van vreemdelinge met geld gekoop is, is saam met hom besny.