Die oordeel van God teen die vernaamste voormanne in Jerusalem.
1EN die Gees het my opgehef en my gebring na die Oostelike Poort van die huis van die Here wat na die ooste kyk; en kyk, by die ingang van die poort was daar vyf-en-twintig man, en onder hulle het ek gesien Jaäsánja, die seun van Assur, en Pelátja, die seun van Benája, vorste van die volk.
2Toe sê Hy vir my: Mensekind, dit is die manne wat ongeregtigheid bedink en slegte raad gee in hierdie stad,
3wat sê: Nie so gou kom die tyd om huise te bou nie: hierdie stad is die pot, en ons die vleis.
4Daarom, profeteer teen hulle, profeteer, mensekind!
5Toe val die Gees van die Here op my, en Hy sê vir my: Spreek, so sê die Here: So het julle gespreek, o huis van Israel; en wat in julle gees opkom, weet Ék.
6Julle het die wat deur julle verslaan is, in hierdie stad vermenigvuldig, en julle het sy strate vol gemaak met die wat verslaan is.
7Daarom, so sê die Here Here: Die wat deur julle verslaan is, wat julle daarin neergelê het, hulle is die vleis, en hierdie stad is die pot, maar júlle sal Ek daar uitbring.
8Julle is bevrees vir die swaard, maar die swaard sal Ek oor julle bring, spreek die Here Here.
9En Ek sal julle daar uitbring en julle oorgee in die hand van vreemdes en strafgerigte onder julle oefen.
10Julle sal deur die swaard val; by die grens van Israel sal Ek julle oordeel. En julle sal weet dat Ek die Here is.
11Hierdie stad sal vir julle nie die pot, en júlle sal daarin nie die vleis wees nie; by die grens van Israel sal Ek julle oordeel.
12En julle sal weet dat Ek die Here is, omdat julle nie in my insettinge gewandel en my verordeninge nie gehou het nie, maar gehandel het volgens verordeninge van die nasies wat rondom julle is.
13En terwyl ek profeteer, het Pelátja, die seun van Benája, gesterwe. Toe het ek op my aangesig geval en hardop uitgeroep en gesê: Ag, Here Here, wil U 'n einde maak aan die oorblyfsel van Israel?
14Toe het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
15Mensekind, jou broers, jou broers, die manne wat aan jou verwant is, en die hele huis van Israel, almal saam, van wie die inwoners van Jerusalem sê: Bly ver van die Here af, aan óns is dit, die land, as besitting gegee —
16Daarom sê: So spreek die Here Here: Omdat Ek hulle ver weggedryf het onder die nasies, en omdat Ek hulle verstrooi het in die lande en Ek vir hulle 'n kort rukkie 'n heiligdom geword het in die lande waar hulle gekom het —
17daarom sê: So spreek die Here Here: Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee.
18En hulle sal daarnatoe kom en al sy verfoeisels en al sy gruwels daaruit verwyder.
19En Ek sal hulle een hart gee, en 'n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle 'n hart van vlees gee,
20sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou en dit doen; en hulle sal vir my 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees.
21Maar hulle wie se hart agter die hart van hulle verfoeisels en hulle gruwels aan loop — hulle wandel laat Ek op hul hoof neerkom, spreek die Here Here.
22Toe het die gérubs hulle vlerke opgehef en die wiele gelyktydig met hulle saam, terwyl die heerlikheid van die God van Israel bo-oor hulle was.
23En die heerlikheid van die Here het opgestyg uit die stad uit weg en het gaan staan op die berg wat oos van die stad lê.
24Daarna het die Gees my opgeneem en my, in 'n gesig deur die Gees van God, gebring na Chaldéa, na die ballinge; en die gesig wat ek gesien het, het van my af opgetrek.
25En ek het aan die ballinge verkondig al die woorde van die Here wat Hy my laat sien het.