Offer van die eerstelinge en die driejaarlikse tiendes.
1EN as jy in die land kom wat die Here jou God jou as erfenis sal gee en jy dit in besit neem en daarin woon,
2dan moet jy neem uit die eerstelinge van al die vrugte van die land wat jy inbring uit jou land wat die Here jou God jou sal gee, en dit in 'n mandjie sit; en jy moet gaan na die plek wat die Here jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon,
3en na die priester kom wat daar in dié dae sal wees, en jy moet vir hom sê: Ek verklaar vandag aan die Here u God dat ek in die land gekom het wat die Here aan ons vaders met 'n eed beloof het om aan ons te gee.
4En die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die Here jou God neersit.
5Dan moet jy voor die aangesig van die Here jou God verklaar en sê: My vader was 'n swerwende Arameër en het na Egipte afgetrek en daar as vreemdeling vertoef met min mense; maar hy het daar 'n groot, magtige en talryke nasie geword.
6Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en 'n harde diens op ons gelê.
7Toe het ons die Here, die God van ons vaders, aangeroep; en die Here het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien;
8en die Here het ons uit Egipte uitgelei deur 'n sterke hand en 'n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders;
9en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, 'n land wat oorloop van melk en heuning.
10Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, Here, my gegee het. Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van die Here jou God en jou neerbuig voor die aangesig van die Here jou God.
11En jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God jou en jou huis gegee het; jy en die Leviet en die vreemdeling wat by jou is.
12As jy al die tiendes van jou opbrings klaar afgesonder het in die derde jaar, die jaar van die tiendes, dan moet jy aan die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gee, dat hulle in jou poorte kan eet en versadig word.
13En jy moet voor die aangesig van die Here jou God sê: Ek het die heilige goed uit die huis weggebring en dit ook aan die Leviet en die vreemdeling, die wees en die weduwee gegee, geheel en al volgens u gebod wat U my beveel het; ek het geeneen van u gebooie oortree of vergeet nie.
14Ek het daarvan in my rou nie geëet en daarvan as 'n onreine niks weggebring en daarvan aan 'n dooie niks gegee nie; ek het na die stem van die Here my God geluister; ek het gedoen net soos U my beveel het.
15Kyk tog uit u heilige woning, uit die hemel, neer en seën u volk Israel en die land wat U ons gegee het, soos U aan ons vaders met 'n eed beloof het, 'n land wat oorloop van melk en heuning.
16Vandag beveel die Here jou God jou om hierdie insettinge en verordeninge na te kom; onderhou dan en doen dit met jou hele hart en met jou hele siel.
17Vandag het jy die Here laat verklaar dat Hy vir jou 'n God sal wees, en dat jy in sy weë moet wandel en sy insettinge en sy gebooie en sy verordeninge moet hou en na sy stem moet luister.
18En die Here het jou vandag laat verklaar dat jy vir Hom 'n eiendomsvolk sal wees soos Hy jou beloof het, en dat jy al sy gebooie sal onderhou;
19en dat Hy jou dan die hoogste sal stel bo al die nasies wat Hy gemaak het, tot 'n lof en 'n roem en 'n sieraad, en dat jy 'n heilige volk aan die Here jou God sal wees soos Hy beloof het.