1IN dié tyd het die Here vir my gesê: Kap vir jou twee kliptafels soos die eerstes en klim op die berg na My toe; maak vir jou ook 'n ark van hout.
2En Ek sal op die tafels skrywe die woorde wat op die eerste tafels was, wat jy verbrysel het; en jy moet dit in die ark sit.
3Toe het ek 'n ark van akasiahout gemaak en twee kliptafels soos die eerstes gekap en op die berg geklim met die twee tafels in my hand.
4En Hy het op die tafels, volgens die eerste skrif, die tien woorde geskrywe wat die Here op die dag van die vergadering by die berg uit die vuur met julle gespreek het; en die Here het dit aan my gegee.
5En ek het omgedraai en van die berg afgeklim en die tafels in die ark gesit wat ek gemaak het; en dit was daar, soos die Here my beveel het.
6En die kinders van Israel het van Béërot Bené-Jáäkan weggetrek na Moséra toe. Daar het Aäron gesterwe, en daar is hy begrawe; en sy seun Eleásar het die priesteramp in sy plek bedien.
7Daarvandaan het hulle weggetrek na Gudgod, en van Gudgod na Jotbat, 'n land van waterstrome.
8In dié tyd het die Here die stam van Levi afgesonder om die verbondsark van die Here te dra, om voor die aangesig van die Here in sy diens te staan en in sy Naam te seën tot vandag toe.
9Daarom het Levi geen deel of erfenis saam met sy broers nie; die Here is sy erfdeel, soos die Here jou God hom beloof het.
Nuwe vermaning tot gehoorsaamheid.
10EN ék het op die berg gestaan soos die vorige dae, veertig dae en veertig nagte lank; en die Here het my ook dié keer verhoor; die Here wou jou nie in die verderf stort nie.
11Maar die Here het vir my gesê: Staan op, gaan heen om voor die volk uit verder te trek, dat hulle kan inkom en die land in besit neem wat Ek aan hulle vaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee.
12En nou, Israel, wat eis die Here jou God van jou as net om die Here jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die Here jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel,
13om te hou die gebooie van die Here en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?
14Kyk, aan die Here jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is.
15Maar net aan jou vaders het die Here 'n welgevalle gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is.
16Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie.
17Want die Here julle God is die God van die gode en die Here van die here; die grote, magtige en gedugte God wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie;
18wat reg verskaf aan die wees en die weduwee, en die vreemdeling liefhet, sodat Hy hom brood en klere gee.
19Daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in Egipteland.
20Die Here jou God moet jy vrees, Hom moet jy dien en Hom moet jy aanhang en by sy Naam sweer.
21Hy is jou lof, en Hy is jou God wat hierdie groot en vreeslike dinge wat jou oë gesien het, aan jou gedoen het.
22Sewentig siele sterk het jou vaders na Egipte afgetrek, maar nou het die Here jou God jou gemaak soos die sterre van die hemel in menigte.