1EN Agríppa sê vir Paulus: Dit is jou vergun om vir jouself te spreek. Toe steek Paulus sy hand uit en verdedig homself:
2Ek ag my gelukkig, koning Agríppa, dat ek my voor u vandag gaan verdedig in verband met alles waarvan ek deur die Jode beskuldig word,
3veral omdat u bekend is met al die sedes en vraagstukke onder die Jode. Daarom versoek ek u om my geduldig aan te hoor.
4My lewe dan van my jeug af, wat van die begin af deurgebring is onder my nasie in Jerusalem, ken al die Jode,
5omdat hulle my van dié tyd af geken het, as hulle dit wil betuig, hoe ek volgens die strengste party van ons godsdiens as Fariseër geleef het.
6En nou staan ek tereg oor die hoop op die belofte wat aan die vaders deur God gedoen is,
7waartoe ons twaalf stamme wat God aanhoudend dag en nag dien, hoop om te kom; oor hierdie hoop, koning Agríppa, word ek deur die Jode beskuldig.
8Wat? Word dit by u as ongelooflik beskou dat God die dode opwek?
9Wat my betref, ek het gemeen dat ek baie vyandige dinge teen die Naam van Jesus die Nasaréner moes doen.
10Dit het ek ook in Jerusalem gedoen; en ek het baie van die heiliges in gevangenisse opgesluit, nadat ek van die owerpriesters volmag verkry het; en so dikwels as hulle omgebring is, het ek my toestemming gegee.
11En in al die sinagoges het ek hulle dikwels gestraf en gedwing om te laster; en ek het uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg, selfs tot in die buitelandse stede.
12Toe ek dan daarvoor na Damaskus op reis was, met volmag en opdrag van die owerpriesters,
13het ek, o koning, in die middel van die dag op die pad 'n lig uit die hemel gesien, sterker as die glans van die son, wat my en my reisgenote omstraal het.
14En toe ons almal op die grond val, hoor ek 'n stem met my spreek en in die Hebreeuse taal sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.
15Toe sê ek: Wie is U, Here? En Hy sê: Ek is Jesus wat jy vervolg.
16Maar rig jou op en staan op jou voete, want hiertoe het Ek aan jou verskyn om jou te bestem tot 'n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn,
17terwyl Ek jou verlos uit die volk en die heidene na wie Ek jou nou stuur,
18om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en 'n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang.
19Daarom, koning Agríppa, was ek aan die hemelse gesig nie ongehoorsaam nie,
20maar ek het eers aan die mense in Damaskus en in Jerusalem en in die hele land van Judéa en aan die heidene verkondig dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God bekeer deur werke te doen wat by die bekering pas.
21Om hierdie rede het die Jode my in die tempel gevang en my probeer ombring.
22Maar omdat ek hulp van God verkry het, staan ek tot vandag toe en getuig aan klein en groot, en spreek niks buiten wat die profete en ook Moses gesê het dat sou gebeur nie:
23dat die Christus moes ly en die eerste wees uit die opstanding van die dode, en 'n lig aan die volk en die heidene sou verkondig.
24Maar terwyl hy hom so verdedig, sê Festus met 'n groot stem: Jy is kranksinnig, Paulus; die groot geleerdheid bring jou tot kranksinnigheid.
25Maar hy sê: Ek is nie kranksinnig nie, hoogedele Festus, maar ek spreek woorde van waarheid en gesonde verstand.
26Want die koning, met wie ek ook vrymoediglik spreek, weet van hierdie dinge; want ek glo nie dat aan hom iets van hierdie dinge onbekend is nie, want dit het nie in 'n hoek gebeur nie.
27Glo u die profete, koning Agríppa? Ek weet dat u glo.
28En Agríppa sê vir Paulus: Jy beweeg my byna om 'n Christen te word.
29En Paulus sê: Ek sou wel God wil bid dat sowel byna as heeltemal nie alleen u nie, maar ook almal wat my vandag aanhoor, so mag word soos ek is, buiten hierdie boeie.
30En nadat Paulus dit gesê het, staan die koning op en die goewerneur en Berníce en die wat saam met hulle gesit het.
31En toe hulle weggaan, praat hulle met mekaar en sê: Hierdie man doen niks wat die dood of die boeie verdien nie.
32En Agríppa sê vir Festus: Hierdie man kon losgelaat gewees het as hy hom nie op die keiser beroep het nie.