Bárnabas en Paulus word deur die gemeente van Antiochíë na die heidene gestuur. Hulle prediking op Ciprus. Élimas die towenaar.
1EN daar was in die plaaslike gemeente in Antiochíë sekere profete en leraars, naamlik Bárnabas en Símeon wat Niger genoem word, en Lúcius, die Cirenéër, en Manáen, wat saam met Herodes, die viervors, grootgeword het, en Saulus.
2En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.
3En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan.
4So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleúcië en daarvandaan weggevaar na Ciprus.
5En toe hulle in Sálamis kom, het hulle die woord van God in die sinagoges van die Jode verkondig; en hulle het ook Johannes as helper gehad.
6En hulle het die eiland deurgegaan tot by Pafos en 'n towenaar gevind, 'n valse profeet, 'n Jood met die naam van Bar-Jesus.
7Hy was by die goewerneur Sérgius Paulus, 'n verstandige man. Dié het Bárnabas en Saulus laat roep en het versoek om die woord van God te hoor.
8Maar Élimas die towenaar — want so word sy naam vertaal — het hulle teëgestaan en het probeer om die goewerneur afkerig te maak van die geloof.
9Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê:
10Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?
11En nou, kyk, die hand van die Here is op jou, en jy sal blind wees en die son 'n tyd lank nie sien nie. En onmiddellik het daar donkerheid en duisternis op hom geval, en hy het rondgegaan en gesoek na mense wat hom by die hand kon lei.
12Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verslae oor die leer van die Here en het geglo.
Rede van Paulus in die sinagoge van Antiochíë in Pisídië. Teëstand van die Jode.
13EN Paulus en sy metgeselle het afgevaar van Pafos en by Perge in Pamfílië gekom. En Johannes het hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer.
14Maar hulle het van Perge af verder gegaan en in Antiochíë in Pisídië aangekom, en hulle het op die sabbatdag in die sinagoge gegaan en gaan sit.
15En ná die lesing van die wet en die profete het die hoofde van die sinagoge na hulle gestuur en gesê: Broeders, as julle 'n woord van opwekking vir die volk het, spreek dan!
16Toe staan Paulus op, wink met die hand en sê: Israeliete en julle wat God vrees, luister!
17Die God van hierdie volk Israel het ons vaders uitverkies en die volk verhoog toe hulle bywoners in Egipteland was, en met 'n hoë arm hulle daaruit gelei.
18En omtrent veertig jaar lank het Hy hulle in die woestyn verdra.
19En sewe nasies het Hy in die land Kanaän uitgeroei en hulle land deur die lot aan hulle uitgedeel.
20En daarna omtrent vierhonderd-en-vyftig jaar lank het Hy rigters gegee tot op Samuel, die profeet.
21En van toe af het hulle 'n koning begeer, en God het aan hulle gegee Saul, die seun van Kis, 'n man uit die stam van Benjamin, veertig jaar lank.
22En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Ísai, gevind, 'n man na my hart, wat al my welbehae sal doen.
23Uit die nageslag van hierdie man het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek,
24nadat Johannes voor sy koms eers die doop van bekering aan die hele volk van Israel verkondig het.
25En toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: Wie dink julle is ek? Ek is dit nie; maar kyk, Hy kom ná my, wie se skoen ek nie waardig is om van sy voete los te maak nie.
26Broeders, kinders van die geslag van Abraham, en die onder julle wat God vrees, vir julle is hierdie woord van verlossing gestuur.
27Want die inwoners van Jerusalem en hulle owerstes het Hom nie geken nie, en deur Hom te veroordeel, het hulle die woorde van die profete vervul wat elke sabbat gelees word.
28En al het hulle niks gevind wat die dood verdien nie, tog het hulle van Pilatus gevra dat Hy omgebring moes word.
29En toe hulle alles volbring het wat oor Hom geskrywe is, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in 'n graf neergelê.
30Maar God het Hom uit die dode opgewek.
31En gedurende baie dae het Hy verskyn aan die wat saam met Hom opgegaan het van Galiléa na Jerusalem, en hulle is sy getuies by die volk.
32En ons bring julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek,
33soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer.
34En dat Hy Hom opgewek het uit die dode, sodat Hy nie meer tot verderwing sou terugkeer nie, het Hy só gespreek: Ek sal aan julle gee die heilige weldade van Dawid wat betroubaar is.
35Daarom sê Hy ook op 'n ander plek: U sal u Heilige nie oorgee om verderwing te sien nie.
36Want Dawid het ontslaap, nadat hy sy eie geslag volgens die raad van God gedien het, en is by sy vaders weggelê en het verderwing gesien,
37maar Hy wat deur God opgewek is, het geen verderwing gesien nie.
38Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word,
39en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.
40Pas dan op dat daar nie oor julle kom wat deur die profete gesê is nie:
41Kyk dan, julle veragters, en wees verwonderd en verdwyn! Want Ek gaan iets in julle dae doen, iets wat julle sekerlik nie sal glo as iemand julle dit vertel nie.
42En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word.
43En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly.
44En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor.
45Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is.
46Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie — kyk, ons wend ons tot die heidene.
47Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U 'n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.
48En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.
49En die woord van die Here is deur die hele land verbrei.
50Maar die Jode het die godsdienstige en aansienlike vroue en die vernaamste mense van die stad opgehits en teen Paulus en Bárnabas 'n vervolging in die lewe geroep en hulle buite hul gebied verdryf.
51Toe het hulle die stof van hul voete teen hulle afgeskud en na Ikónium gegaan.
52En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.