Die hoofman Cornelius.
1EN daar was in Cesaréa 'n man met die naam van Cornelius, 'n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling.
2Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God.
3Hy het duidelik in 'n gesig omtrent die negende uur van die dag 'n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius!
4En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom.
5Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word.
6Hy is tuis by 'n sekere Simon, 'n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen.
7En toe die engel wat met Cornelius gespreek het, weg was, roep hy twee van sy huisbediendes en 'n vroom soldaat van die wat altyd by hom was,
8en vertel hulle alles en stuur hulle na Joppe.
9En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid;
10en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar 'n verrukking van sinne oor hom gekom:
11hy sien die hemel geopend en 'n voorwerp soos 'n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word.
12Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel.
13Toe kom daar 'n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet!
14En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie.
15En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.
16En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.
17En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon.
18En hulle roep en vra of Simon, wat ook Petrus genoem word, daar tuis is.
19En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek.
20Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur.
21En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is?
22En hulle sê: Cornelius, 'n hoofman oor honderd, 'n regverdige en godvresende man, wat 'n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het 'n goddelike openbaring ontvang deur 'n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê.
23En hy het hulle binnegenooi en geherberg. En die volgende dag het Petrus saam met hulle afgereis, en enkele van die broeders uit Joppe het met hom saamgegaan.
24Die dag daarop het hulle in Cesaréa aangekom. En Cornelius was hulle te wagte, en hy het alreeds sy familie en besondere vriende bymekaargeroep.
25Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys.
26Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar 'n mens.
27En onderwyl hy met hom spreek, gaan hy binne en vind baie wat vergader het;
28en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir 'n Joodse man om met iemand van 'n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie.
29Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het.
30En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid,
31en meteens staan daar 'n man voor my in 'n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring.
32Stuur dan na Joppe en laat Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy vertoef in die huis van Simon, 'n leerlooier, by die see; as hy kom, sal hy met jou spreek.
33Ek het toe op die daad na u gestuur, en u het goed gedoen om te kom. Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is.
34En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie,
35maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.
36Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus — Hy is die Here van almal.
37Julle weet van die saak wat deur die hele Judéa gebeur het en van Galiléa af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek het,
38met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.
39En ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die Joodse land en in Jerusalem. En hulle het Hom omgebring deur Hom aan 'n kruishout op te hang.
40Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn
41nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het.
42En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode.
43Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang.
44En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het.
45En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is.
46Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek:
47Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie?
48En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. Toe het hulle hom gevra om nog 'n paar dae te bly.